Die Corona-19-pandemie se uiteindelike gevolge bly onvoorspelbaar, maar daar is realiteite in rugby waarvan reeds werk gemaak kan word.
Een van die sake wat groot onsekerheid tot gevolg het, is die kwessie van skolerugby wat feitlik vir seker vir die 2020-seisoen daarmee heen is. Dit het onsekerheid en ʼn redelike mate van wrewel geskep by spelers wat uitgesien het na hul eerste proesel in die skool se eerste span; en ook by dié wat gehoop het op groter louere waardeur hul universiteitsbeurse met die oog op ʼn beroepsloopbaan in rugby kon losspeel.
Die paadjie wat deur vanjaar se spelers gevolg moet word om ʼn plekkie in die rugbyson te kry, klink miskien meer ingewikkeld as bloot om goed genoeg te wees om jou provinsie se Cravenweek-span te haal.
Van al die veranderende faktore wat oor die jare sukses op die rugbyveld bepaal het, is daar een onveranderlike: ʼn Jong speler wat vandag uitblink, sal nie noodwendig oor vyf jaar nog op die professionele unies se radar wees nie.
Kortom, om vir die SA Skole-span en provinsiale skole-spanne gekies te word, waarborg nie sukses nie, soos onderstaande ook aandui:
- Van die agterlyn wat in die Wêreldbeker-eindstryd in die opdrafspan was, het net Handré Pollard vir die SA skole-span gespeel. Voorlangs was dit net die kaptein Siya Kolisi, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe. Nie Beast Mtawarira (in Zimbabwe op skool), Pieter-Steph du Toit, Duane Vermeulen, Lood de Jager of Eben Etzebeth het SA Skole gespeel nie.
- Makazole Mapimpi het eers as 23-jarige sy debuut as provinsiale speler (vir Grens) gemaak.
- Van Suid-Afrika se laaste 22 toetskapteins wat sedert eenwording in 1992 in 318 toetse voorgedraf het, het net nege vir die SA Skole-span gespeel.
Die 13 Bokkapteins wat nie die SA Skole-span kon haal nie, was Naas Botha, Tiaan Strauss, Adriaan Richter, Gary Teichmann, Rassie Erasmus, André Vos, Victor Matfield, Johann Muller, Schalk Burger, Fourie du Preez, Warren Whiteley, Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit wat saam in 103 toetse die kapteins was.
- Minder as sewe persent van die sowat 850 SA Skole-spelers sedert 1974 het Springbokke geword.
Bostaande is net ter agtergrond in ʼn jaar waar van die land se beste skolespelers nie die kans gekry het om hul make te maak en keurders te beïndruk met die hoop op die verkryging van beurse by universiteite en die toegang tot die Varsitybeker-spanne nie.
Dit is werklik hartseer, veral vir die manne wat deur rugby toelating tot die universiteit wou verkry met die verkryging van ʼn kwalifikasie as hoofdoelwit. Vir die meeste van dié klomp is dit ʼn werklike loopbaanterugslag.
Die paadjie vorentoe
Maar vir dié wat gehoop het om met die Varsitybeker as eerste trappie na rugbyroem en -rykdom te klim, is daar nou die uitdaging om dit aanstaande jaar met harde werk en dissipline in klubrugby en in junior provinsiale rugby reg te kry.
Lizo Gqoboka het dit wel vermag. Hy het as 19-jarige uit die Transkei vir die eerste keer ʼn rugby-oefening gesien. Hy het uit Durban Port Elizabeth toe verhuis, ʼn eenjaarkontrak gekry en is nou ʼn Springbok.
Dit is die paadjie wat deur baie van ons heel voorste spelers gevolg is, voor én ná die Cravenweek (vanaf 1964) en junior provinsiale spanne wat in die laat sestigerjare eers gereeld begin speel het. Vóór dit was daar klipharde klubrugby waar die spelers van onder 19 na senior spanne gespring het en hul make moes maak om bo uit te kom.
Warren Whiteley, Lions se Springbokkaptein, is as junior oorbodig by die Sharks se Akademie beskou en moes sy weg elders gaan baan.
- Frik du Preez, ons Speler van die Millennium, was al 24 toe hy deur Noord-Transvaal gekies is.
- Jannie Breed, Hennie Muller, Tommy Bedford, Gary Teichmann, Roy Dryburgh en Johan Claassen is van die Bokkapteins wat as jongelinge in die senior ligas hul merk moes maak.
Sterk ouderdom-ligas
Die Blou Bulle Rugbyunie het verlede jaar met hul oorgrensliga, waaraan spanne van die Luiperds, Valke en Limpopo saam met die Bulle s’n deelgeneem het, tientalle spelers gelewer aan verskeie provinsiale spanne wat aan die nasionale o. 19-, o. 20- en o. 21-kompetisie deelgeneem het.
Verlede jaar se verkorte nasionale o. 21-kompetisie het verdere geleentheid vir die Junior Springbokke se keurders gegee om die spelers te beoordeel en die Junior Bokke het derde in Wêreldrugby se Onder 21-Kampioenskap geëindig. Toegegee, die meeste van die spelers het die voordeel van ʼn vorige Cravenweek en o. 19-kompetisie gehad om hul merk te maak.
Maar die keurders is nie ape nie. Goeie klubstelsels, soos dié van die Blou Bulle, die WP se uitsoekliga vir o. 21’s waaraan 15 spanne deelneem, die vermoë van die Goue Leeus om uit hul jong spelers gedugte senior spanne te kan kies (en dit sluit nie eers die naasbestes van die Maties, Tukkies en Pukke in nie) en waaruit ʼn hele paar Springbokke gekom het, bly ʼn goeie manier om op die radar te kom.
Minder geld vir spelers
En vir vanjaar se skolespelers wat rugby as toekoms sien, is daar ook die realiteit dat die groot, soms belaglike, bedrae wat oorsese klubs betaal het, nou drasties besnoei sal word. Daar was reeds voor die pandemie die besef dat die sport en sy klubs en franchise’e nie meer die groot kontrakte kan bekostig nie.
Die aantal beurse by universiteite, waarna vanjaar se skoolverlaters gemik het, was reeds voor vanjaar aan die afneem met borge wat suiniger begin word het.
Herhaling van die 2020-matriekjaar?
Praatjies (in gevalle met ondersteuning van die skool se afrigter) om die matriekjaar te herhaal, klink kortsigtig en boonop selfsugtig. Sal dit nie tot gevolg hê dat die speler wat in 2021 die plek van vanjaar se uitblinker sou inneem, dan deur hóm uit die eerste span gehou sal word nie? Dan herhaal vanjaar se situasie hom dus.
En met die bostaande feite, is dit in elk geval ʼn dobbelspel.