Mening: Vreemde skeidsregterbeslissings en die finansiële druk wat rugbyspanne ervaar

rugby

Argieffoto

Vandag gaan ons kyk na net twee faktore wat onsekerheid skep: skeidsregtersake, onder meer, die onkonsekwente reëltoepassings; ʼn beskuldiging dat Suid-Afrikaanse rugbyskeidsregters oneerlik is; en die finansiële druk wat die wêreld se voorste rugbyunies en -spanne ervaar.

Laasgenoemde kan dié sport, soos ons sy strukture, lande en kompetisies leer ken het, dramaties verander, net soos met die gereelde reëlveranderings ná die koms van professionalisme in 1996.

SKEIDSREGTERS EN DIE INTERPRETASIE VAN REËLS

Ná die onlangse beskuldiging van ʼn Australiese rugbybaas, Baden Stephenson van die Rebels, oor Suid-Afrikaanse skeidsregters wat glo skelm is en wat ons eie Superspanne  met strafskoppe voortrek – en waarvan die sogenaamde feite waarop hy steun deur Sanzaar as onwaar afgemaak word – is dit miskien gepas dat daar na algemene tekortkominge en oorsigte, op alle vlakke en deur die meeste voorste skeidsregters van alle lande, gekyk word.

Die lynstaan

Die skeefingooiery by die skrum is ʼn verlore stryd. Dit word aanvaar dat dit skeef mag wees mits die haker die bal darem haak.

By die lynstaan is daar egter baie sienings wat van die een rugbyvlak tot die ander wissel en letterlik ook van land tot land, soos die opleiding van skeidsregters verskil, na gelang van wie die kursusaanbieder is!

Die reël in Afrikaans se bepalings oor die ingooi by ʼn lynstaan is, onder meer, soos volg:

ʼn Lynstaan word by die ingooimerk gevorm.

Elke span vorm ‘n enkele lyn parallel met en ‘n halwe meter van die ingooimerk aan hul kant van die lynstaan tussen die vyfmeter- en die vyftienmeterlyn. Die spasie tussen die twee lyne moet gehandhaaf word totdat die bal ingegooi word. 

Die speler wat die bal ingooi, staan op die ingooimerk met albei voete buite die speelveld. Die ingooier moet nie in die speelveld instap totdat die bal ingegooi is nie. (Is daar ooit ʼn haker wat dit nakom, en die assistentvlagman, die ou lynregter, wat hom daarop wys?  ʼn Voet nader aan sy slot maak sy ingooiwerk mos makliker, vandaar dié reël).

Die bal moet:

  1. Reguit van die ingooimerk af ingegooi word.
  2. Die vyfmeterlyn bereik voordat dit die grond tref of gespeel word.

Reguit ingooi? Hoe dikwels word dit nie, veral op die hoogste vlak, oorgesien nie? Die gebruik is nou klaarblyklik om ʼn bal op die binneste skouer van die ingooier se springers as reguit te beskou.

Benewens die onregverdige voordeel kan dit lei tot vernouing van die eenmetergaping tussen die spanne omdat die benadeelde span se springers eenvoudig oor die ingooilyn móét beweeg om besit te probeer kry.

Kyk gerus maar hoe die skeidsregters “eie reg” by lynstane toe-eien!

En wat van die nuwerwetse gebruik om so ʼn skelm vinnige ingooi na die eerste of tweede speler in die lynstaan te gooi? Kyk maar, dis letterlik elke keer skeef sonder dat die ingooier gestraf word!

Onkantspel

Veral Egon Seconds loop onder oorsese kritici deur. Australiese pers het geskryf dat hy 43 strafskoppe vir SA spanne in drie kragmetings toegestaan het. Daarteenoor het hy sy fluitjie net ses keer in die guns van besoekende spanne geblaas. Foto: Facebook.

ʼn Mens kan oor vele interpretasies deur skeidsregter gesels, maar die frustrerendste is seker ʼn agterlyn waarvan spelers ooglopend oor die onkantlyn van die agterste voet by ʼn losskrum/losgemaal is. Dis tog seker die assistentskeidsregter se werk om dit uit te wys? En wat van die spelers wat van die kant af inkom?

En kyk maar hoe dikwels is spelers al oor die middellyn of die 22 m-lyn wanneer die bal af- of ingeskop word. Ook met die hoogskoppe op die teenstanders se agterste spelers is daar feitlik elke keer spelers wat reeds by ʼn spanmaat verby is teen die tyd dat hy skop – tegnies dus onkant!

En bostaande voorbeelde word in seker sowat 90% van die gevalle geïgnoreer.

Die hoogvat

Dit is ʼn tameletjie waar daar, ondanks die riglyne, alte dikwels op individuele oordeel staatgemaak moet word. Nugter weet wat die oplossing is.

ʼn Mens hoef net die voorbeeld te noem van die verskil tussen die ervare en hoog aangeskrewe skeidsregter Jaco Pretorius en Pro Legoete, ʼn man wat self provinsiaal geblaas en provinsiale sewesrugby gespeel het.

Pretorius het, in die Varsitybeker-wedstryd tussen die Tuks en die Shimlas, ʼn hoogvat na die TV-skeidsregter Legoete verwys. Legoete het volgehou die baldraer is nie op die ken getref nie, Pretorius het daarvan verskil en die Tukkies se Keenan Opperman is koelkas toe.

GB Jordaan se skitterende foto van Burger Odendaal se duikslag.

En twee dae voor dié kragmeting is die Stormers se Frans Malherbe op Nuweland met ʼn geelkaart gestraf en het die Bulls-kaptein Burger Odendaal op Loftus net ʼn strafskop teen hom gekry vir ʼn soortgelyke hoogvat waar die baldraer duidelik gesak het.

ʼn Mens kan nie van een van die vier sienings verskil nie! En dít is juis waar die probleem lê: Wat is reg en wat is verkeerd?

WORD RUGBY UITVERKOOP?

New Zealand Rugby (NZR) verwag oor die volgende vyf jaar verliese van meer as NZ$35 miljoen (sowat R340 miljoen). Suid-Afrika het in 2018 ʼn skamele wins gemaak ná twee baie swak jare en Australië is oënskynlik finansieel die swakste van die drie daaraan toe.

Hier by ons het daar die afgelope jare weens onvoldoende fondse die volgende nasionale reekse in die slag gebly:

  • die provinsiale reeks tussen amateurspanne (bestaande uit spelers wat nie gekontrakteer is nie);
  • die provinsiale sewesreeks; en
  • die onder-19-toernooi (vervang met ʼn Noord- en Suid-Groep, waar die een teen sy drie teenstanders in ʼn ligakompetisie speel, en die ander vier in ʼn uitklopkompetisie speel)

En dit gaan broekskeur in die ander lande, miskien met Frankryk en sy miljardêrklubeienaars wat die uitsondering is.

In Engeland het 11 van hulle 12 Premierliga-spanne in die 2018-boekjaar verliese gemaak, met die Bristol Bears wat die uitsondering is. (Die klubs se 2019-resultate is nog nie bekend nie).

Die opskrif “Buyout group CVC steps up plans to reshape global rugby” in die Financial Times vertel die storie van waarheen rugby op pad is. Die CVC Capital Partners mik duidelik daarna om een van die invloedrykste sakeondernemings in die wêreldrugby te word.

CVC het reeds samesprekings met SA Rugby gevoer wat, volgens oorsese media, baie goed gevorder het, maar die Suid-Afrikaanse beheerliggaam en CVC wou nie een kommentaar daarop lewer nie.

Wêreldrugby en CVC praat ook met mekaar. Die uitvoerende hoof van World Rugby, Brett Gosper, sê omdat die wêreldliggaam daarvan bewus is dat CVC met van die voorste rugbylande praat en onderhandel, doen hulle dit eerder as om nié in gesprek met CVC te wees nie.

Daar word verwag dat CVC binne ʼn week of so sal bevestig dat hulle £300 miljoen – net minder as R6 miljard (oftewel R6 000 000 000) – vir ʼn 14%-aandeelhouding in die Sesnasies-reeks betaal. Hul totale aandeelhouding in Europese rugby sal na £600 m (12 miljard) verhoog word met £120 miljoen (R2,4 miljard) vir ʼn aandeel in die Pro14-reeks nadat hulle reeds voorverlede jaar £180 miljoen (R3,6 miljard) vir 27% van die Engelse Premierliga betaal het.

♦ CVC is tans tevrede met minderheidsaandele aangesien hulle aanvanklik glo net “sakebesluite wil beïnvloed”.

Hulle moet egter nie net as praters beskou word nie. Dit is reeds bekend dat hulle ʼn internasionale kompetisie vir die wêreld se voorste klubs, insluitende die franchise’e, op die been wil bring; weer die gedagte van ʼn jaarlikse Wêreldreeks tussen die voorste lande wil ondersoek; en ʼn omvangryke enkele TV-stelsel vir rugby wil daarstel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JN ·

Die skeidsregters versmoor die spel heeltmal deesdae met hul vertolking van hoe dit moet afspeel! Hul dink nou deesdae die rugby spel gaan meer oor die skeidsregter as oor die spel!!Die nuwe reels word ok nie konsekwent toegepas nie..Die nuwe reelboek is n grap en maak rugby nou eerder n spel vir Balletdansers as ek die ding so van die kant af kyk…Van die nuwe reels is byna belaglik verby..Dit is geen wonder dat rugby n stadige dood sterf nie…Ek moet erken ek voel ok dat oorsee se skeidregters hul spelers voortrek nes hul voel oor Suid Afrika se skeidsregters…….

david ·

Een deel van die spel wat na my mening aandag verdien, is die rolmaal beweging, waar die baldraer agter in die gemaal deur sy spanmaats beskerm word. Dit lyk nog altyd vir my na obstruksie….! Obstruksie is mos wanneer ‘n speler gestraf word wanneer hy poog om sy maat met die bal is sy besit, te beskerm teen ‘n opponent, of verstaan ek dit verkeerd..?
‘n Ander deel van die spel is wanneer een speler by ‘n losgemaal/losskrum ‘n opponent sg “uithaal” ….dit gebeur nogal met geweld…is Rugby ernstig oor speler veiligheid ?

SomeOne ·

waarom word daar nie na meer tv skeidsregters gebruik gemaak word nie, dit sal dalk net vir ‘n paar wedstryde sleg gaan en dan verbeter
stuur die veld skeidsregter ook koelkas toe as hy strooi aanvang
alles gaan oor geld en nie die spel nie

Scalla ·

Met die skeef ingooi by die skrums wat tans standaard praktyk is, is dit moeilik om n vaskop te haak.

Manie ·

Tans word ‘n ref vooraf ingelig hy moet ‘n wedstryd blaas wat dit ooplaat vir ongeruimdhede. My voorstel is: Die behoefte by ‘n wedstryd is 4 persone (almal is gekwalifiseerd), ‘n skeidsregter, TMO en 2 vlagmanne. Vier skeidsregters daag by die wedstryd op soos normaalweg gebeur, niemand weet wie gaan blaas nie. Die kaptein wat die lood wen het ‘n keuse van 40min spel met sy keuse as skeidsregter. Hy het die keuse om sy helfte te bank tot 2de helfte as hy dit strategies wil benader. As dit gebeur het die kaptein wat die lood verloor het die keuse om die TMO te kies. Die ander twee persone is dan vlagmanne. As die ref sleg blaas word hy of TMO toe gestuur of vlagman in die 2de helfte. Hierdie is vir my meer gebalanseerd beginsel en die kapteins het deelname in die keuses wat nader aan die spel is. Dink net hoe hierdie metode die goeie met die ander sal skei op ‘n meer natuurlike manier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.