Mening: Wat word van ons onder 19’s sonder ʼn nasionale liga?

Argieffoto: pixabay.com

Die afskaffing van die SA Rugby se o. 19-Kampioenskap het groot onsekerheid by jong spelers, hul ouers en ook Suid-Afrika se rugbyunies tot gevolg gehad.

Dié stap was egter onvermydelik. Soos van die ander groot lande is SA Rugby ook in finansiële moeilikheid. Die All Blacks, ná verlede jaar se groot wins, danksy die toer van die Britse en Ierse Leeus in 2017, begroot vir groot verliese vanaf aanstaande jaar; net een van die 14 klubs in Engeland se Premierliga het verlede jaar nie ʼn groot verlies gemaak nie; en die RFU, Engeland se beheerliggaam, trek self nou weer swaar ondanks die wins van £228 miljoen (meer as R4 miljard teen die huidige wisselkoers) met die 2015 Wêreldbeker-toernooi.

Daar is natuurlik meer spelers in dieselfde posisie, maar ek weet van drie mannetjies wat verlede jaar by die Goue Leeus gekontrakteer is. Hulle speel op die oomblik glad nie rugby nie nadat die Goue Leeus besluit het om die onder 19’s van hul kontrakte te onthef.

Hulle boer in die gimnasiums. Dis ál of die manne dit as ʼn rugby-sabbatsjaar beskou tot aanstaande jaar wanneer hulle makliker by die o. 21’s sal inpas. Rugbyspeel vir die genot is klaarblyklik nie ʼn opsie nie.

Eugene (Loffie) Eloff, as Suid-Afrika se hoofafrigter wat twee o. 19-Wêreldbeker-toernooie gewen het en met gesag oor hierdie ouderdomsgroep kan praat, het ʼn rukkie gelede aan my gesê dat klubrugby moontlik deur die afskaffing van die o. 19-kampioenskap dalk wel versterk kan word, maar dat baie spelers verlore sal gaan.

Hy meen dit is nodig dat ʼn strategiese plan dringend opgestel moet word oor hoe om na die jong spelers om te sien.

En hieroor voel Eloff sterk: Rugby bied nie ʼn heenkome nie, behalwe aan ʼn paar uitsoekspelers. Die huidige posisie waar hulle nou nie ʼn werklike rugbyheenkome het nie, sal die jong spelers hopelik dwing om iets (anders) met hul lewens te doen.

Van hulle sal seker deur die Young Guns- en Varsitybeker-stelsel raakgesien word, maar nie alle ouers het die vermoë om hul kinders wat rugby speel, universiteit toe te stuur nie. En hoeveel spelers het via die provinsiale akademies bo uitgekom?

Die jonges, veral Cravenweek-spelers, het die verwagting dat rugby ʼn loopbaan sal wees. Maar is dit moontlik?

Kyk maar na die spelersgetalle by ʼn Cravenweek. Agttien spanne van Suid-Afrika met 24 spelers elk, dus 432 spelers, baie waarvan twee jaar vir hul provinsies gespeel het, neem elke jaar aan die Cravenweek deel. En dis net die uitsoek-toernooi sonder die Akademie-toernooi.

Daar is die afgelope drie jaar net 42 nuwe Springbokke gekies ‒ met insluiting van die een toets in Amerika teen Wallis. Daar moet dus darem seker by ouers en jong spelers die realisme wees dat die kanse om Springbok te word, of selfs net om Superrugby te speel, uiters skraal is.

Foto: Twitter @Springboks

Daar is in die nege jaar van 2010 tot einde verlede jaar net 101 nuwe Bokke gekies, dus elf per jaar.

Baie van die sowat 240 franchise-spelers (onder andere die Kings en die Cheetahs in die PRO14) moes vier, vyf jaar swoeg om dit te bereik.

Hoeveel jong spelers skuif, selfs van die o. 21’s af, later op boontoe om nie eens van toetsrugby te praat nie?

Alan Zondagh, nuwe direkteur van afrigting by die Blou Bulle, het prontuit ná sy aanstelling gesê Superrugby is die belangrikste by ʼn unie of franchise.

Hy het toe vertel dat hy met baie van die unies in die land te doen kry, en hulle stem saam dat spelers die o. 19- of o. 21-toernooi mag wen, maar dat daar weinig van hulle is wat deur dáárdie stelsel kom om eendag Superrugby te speel.

Daar moet na die stelsels gekyk word sodat jong spelers kan deurbreek na Superrugby.

Die Blou Bulle het pas die o. 20-Volcano-liga bekend gemaak. Die liga sal binnekort as oorbrugging tussen die o. 19’s en die amptelike o. 21-Kampioenskap van SA Rugby help dien.

In dié toernooi sal die o. 19’s en o. 20’s van die Projek vir Toekomstige Bulle saam met amateurklubspelers meeding in ʼn nuwe o. 20-liga om nuwe talent te identifiseer. ʼn Positiewe stap, soos die versterkte o. 19-liga van die Vrystaat Cheetahs.

Só ook SA Rugby se beoogde toernooi in die plek van die provinsiale reeks. Wanneer? Waar? Hoe word die spelers deur hul unies gekies en voorberei om kleim af te steek vir die Junior Bokke as van die bestes nie eers meer klubrugby speel nie? Of is hulle almal al geïdentifiseer by die Cravenweek, sonder inagneming van hoe jong spelers se ontwikkeling en liggaamsbou verander?

Wat is die alleroplossing? Miskien maar terugkeer na ʼn enkele o. 20-kampioenskap waar die skoolverlaters grootliks sal kan inval, met die o. 21’s wat die jaar daarna as seniors kan meeding.

Dan is die gaping nie vir een van dié twee ouderdomsgroepe te groot nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik UAE ·

Dan nog meeding met die kwotas wat bereik MOET word ook?

Albert ·

Dit is n groot geleentheid om klub rugby op te hef, daardie spelers moet gaan klub rugby speel soos van ouds. Ons is uit die skool uit en by die dorp se klub gaan speel en daar was dan drie tot vier spanne by die klub en dit het jou die geleentheid gegee om by die ou manne te leer wat al hul kennis oorgedra het. Die probleem is dat die seuns neerkyk na klub rugby want die glamer is min en die rugby is hard daar tussen die ou manne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.