Meningstuk: Klubrugby weer relevant ná minder kontrakte, oorsese besnoeiing

Berea Rovers van Durban in ‘n Murraybeker-eindstryd. Foto: Verskaf.

Die bespiegeling dat die Covid-19-pandemie die wêreld soos ons dit geken het, in vele opsigte sal verander, is natuurlik niks nuuts nie.

Ten opsigte van rugby is dit ook nie net die pandemie wat nuwighede sal voortbring nie – daar is ook die toutrekkery in die provinsiale en nasionale vergadersale, hoofsaaklik omrede die najaag van yslike finansiële voordele. Dit sal die stelsels, kompetisies en selfs reëls wêreldwyd anders daar laat uitsien.

Die finansiële skok en groot verlies wat die pandemie op alle vlakke vir rugbybase tot gevolg gehad het, sal ongetwyfeld ook kontraktering beïnvloed.

In Suid-Afrika is die ses franchise’e reeds verlede jaar ingelig dat hulle voortaan net 45 beroepspelers mag hê. Dit beteken, onder meer, dat daar plaaslik heelwat op die meestal goeie en (administratiewe) sterk klubs gesteun sal word om die sport nie net te onderhou nie, maar ook uit te bou. (Die diepte en sterkte van ons klubs word hieronder vollediger bespreek.)

♦ Die finansiële dilemma waarmee Suid-Afrikaanse rugby, selfs vóór die pandemie, soos ook die meeste groot rugbylande geworstel het, het reeds verlede jaar tot die kansellering van junior kontrakte gelei en die franchise’e het almal ʼn groot aantal goeie jong en ook senior spelers en dus diepte verloor.

Maar die lekker is ook verby vir hierdie manne wat hul heil toe oorsee gaan soek het. Engeland en Frankryk se klubs sukkel, en die astronomiese kontrakbedrae, soos die sowat R20 miljoen per jaar aan Handré Pollard, sal nie sommer herhaal word nie. Trouens, al Engeland se Premierliga-klubs het hul spelers se salarisse gesnoei.

Kortom: Oorsese geleenthede en ook die grootte van die kontrakte sal voortaan toenemend minder word. Daar sal nou skielik meer plaaslike spelers wees wat meeding om een van die 45 spelers van elk van die ses franchise’e te wees

Voordelig vir SA rugby

Vir Suid-Afrikaanse rugby kan dit voordelig wees, mits dit reg deur die unies gekanaliseer word. Manne wat in die verlede na Europa of Japan sou padgee, se lus dáárvoor is heelwat minder.

Dit laat hierdie spelers met die keuse: Gaan maak jou merk op klubvlak of hou op met rugby speel. Dit geld vir die senior spelers, en ook vir die juniors wat op beurse staatgemaak of gehoop het om te gaan Varsitybeker-rugby speel.

Aanstaande seisoen sal daar nie meer ʼn o. 19-span op provinsiale vlak wees nie en hoogs waarskynlik ook nie by die onderskeie bonde en streke se kompetisies nie. Die o. 21’s speel nog vanjaar op provinsiale vlak (dis nou ás ons rugby wel vanjaar nog sal voortgaan), maar dié ouderdomsgroep sal aanstaande jaar ook verdwyn.

Daar sal voortaan dan net ʼn o. 20-liga vir junior spelers wees soos dit by die Sesnasies-unies en ook in Nieu-Seeland geld.

Vir dié wat verlede jaar uit die skool is en die spelers wat vanjaar nie hul stempel kon afdruk nie, sal daar slegs klubrugby wees waar hulle kan uitblink saam met dié wat slegs speel omdat hulle ʼn liefde vir die spel het.

Omvang van klubrugby

Die verwagting is dat klubrugby se spelers aanstaande jaar só sterk sal toeneem, dat probleme met die beskikbaarheid van velde in sommige unies mag voorkom.

En klubrugby is nie, soos baie mense dink, ʼn sommerso vorm van die spel nie, soos ek hieronder uitwys.

Dit gaan natuurlik nie oral ewe goed by alle klubs en in alle unies nie, maar Suid-Afrikaanse klubrugby is groot in omvang en dienslewering aan die spel. Dit is ʼn yslike organisasie wat deur elke provinsiale unie gedryf word.

Ter agtergrond: Daar is, benewens die franchise-spelers in Superrugby en die PRO14-reeks, sowat 1 180 klubs met net minder as 85 000 geregistreerde naskoolse spelers in Suid-Afrika. Daar is ook 4 895 laerskole wat rugby aanbied wat 305 518 kaalvoetspelertjies tot o. 13 het; en die 2 504 hoërskole het 152 653 spelers.

Verpligtinge van ʼn rugbyklub

Maar kom ons kyk uitsluitlik na hoe groot klubrugby in omvang en hul dienslewering aan die spel is.

Elk van die 1 180 klubs, sommige met drie senior en twee junior spanne, moet elke week sorg vir goed gemerkte velde met ʼn goeie speeloppervlak. Die velde moet water kry, die gras moet gesny word, die lyne moet getrek word, vlaggies moet voor wedstryde ingeplant en kussings om die pale gebind word. Die toegangshekke moet beman word, daar moet vir verversings by die klub gereël word; die kleedkamers moet skoongemaak en -gehou word en truie (wat aan die klub behoort) moet ná wedstryde gewas word. Skeidsregters moet deur die unie se skeidsregterafdeling gereël word asook noodhulp vir elke wedstryd.

Al dié dinge kos geld.

Louis Roos hardloop vir oulaas op die veld saam met sy twee kinders. Hy het meer as 200 klubwedstryde vir Middelburg gespeel. Foto: Konrad Jansen van Rensburg.

Met 85 000 klubspelers in die land beteken dit dat daar weekliks ʼn raps minder as 3 000 klubwedstryde gespeel word, in ag genome dat klubspanne dikwels hulle bankspelers uit die tweede span se opdrafgeledere kies; die tweede span uit die derde span, en so aan.

Suid-Afrika het 14 unies. Dit beteken dat elke unie weekliks (gemiddeld) sowat 210 skeidsregters vir wedstryde moet aanstel. Daarby moet gevoeg word die 2 500 hoërskole, wie se eerstespanwedstryde (hopelik!) altyd deur ʼn gekwalifiseerde skeidsregter beheer word.

Die 2 500 skole se eerste spanne speel dus saam 1 250 wedstryde per week. As mens aanvaar al 14 unies het ewe veel hoërskole (wat nie geval is nie), is dit gemiddeld ʼn verdere 90 skeidsregters per unie.

By unies soos die Westelike Provinsie, die Blou Bulle, die Boland en KwaZulu-Natal wat baie spanne en spelers het, moet skeidsregters soms in drie wedstryde per dag blaas.

Daarbenewens is daar die verpligting van elk van die 14 unies om:

  • skeidsregters op te lei en te vergoed (vir hul petrol en so ʼn ietsie ekstra) vir wedstryde, wat uitloop op ʼn nogal aardige bedraggie vir die groter bonde en ook vir die bonde wat ʼn groot gebied beslaan, soos die OP Rugby-unie, Griekwas en die meeste van die plattelandse unies;
  • ontwikkeling te doen (vrouerugby, sewesrugby, skeidsregters);
  • die Cravenweek-opwarmingstoernooie te reël en te befonds; die Cravenweek-proewe aan te bied;
  • die skolespanne te befonds (o. 18-Cravenweek, o. 18- Akademieweek, o. 16-Grant Khomo-week, Vroue o. 16-week, Akademieweek, afrigters en beamptes te betaal, speeltruie aan te skaf, vervoer te reël en te betaal;
  • ʼn aantal heeltydse betaalde beamptes te hê om na die administrasie en bemarking om te sien;
  • spanbestuurders en afrigters te bekom en te besoldig; en
  • vervoer vir spelers wat nie op eie stoom wedstryde (en oefeninge) kan bybring nie, te reël.

Vir elke klub is daar natuurlik die uitdaging om goed te presteer, goeie spelers te werf en te ontwikkel, klubgees en -lojaliteit te skep, en deurlopende klubuitgawes te dra (soos balle wat weekliks “verminder” weens diefstal deur klublede, die gereelde was van truie, onthaal van besoekende spanne en hul ampsdraers, huur van die veld[e], en by sommige klubs ook besoldiging van ʼn paar of alle spelers).

Klubgeleenthede

Daar is heelwat geleentheid om by ʼn goeie klub die oog van keurders te vang. Kyk maar na die omvang en invloed van klubs by ʼn paar unies:

  1. By die Westelike Provinsie is daar meer as 170 senior spanne en omtrent 60 junior spanne. (Die universiteite se koshuis- en fakulteitspanne is nie by hierdie getalle ingesluit nie).

Terloops, In die Wes-Kaap – WP, Boland en SWD – woon sowat 500 000 toeskouers weekliks klubwedstryde by. Die Boland het meer as 200 klubs met die aantal spanne wat tussen een en drie per klub wissel.

  1. Die Blou Bulle Rugbyunie het verlede jaar met hul oorgrensliga, waaraan spanne van die Luiperds, Valke en Limpopo saam met die Bulle s’n deelgeneem het, tientalle spelers uit hulle taai o. 20-liga aan verskeie provinsiale spanne gelewer wat aan die nasionale o. 19-, o. 20- en o. 21-kompetisie deelgeneem het. Een van die land se heel oudste klubs, Pretoria, wat jare gelede doodgeloop het, het weer in die eerste liga by die Bulle gespeel.
  • Die Goue Leeus het ʼn hele paar goeie o. 21-spanne (buiten hul drie universiteite UJ, Wits en Pukke) wat aanstaande jaar as o. 20-spanne sal moet speel. ʼn Mens dink hier aan veral Raiders, Pirates en Roodepoort Wanderers.
  1. Daar is die akademie in Durban wat al vele provinsiale spelers en ook Springbokke opgelewer het. Een van hulle was Marcell Coetzee, wat nie eens na die KwaZulu-Natal-skoleproewe toe genooi is nie. Daar was, onder meer, ook twee Oos-Kapenaars, Ryan Kankowski (ook vir die Blitsbokke) en Keegan Daniel wat toetsrugby gespeel het, en talle spelers wat vir provinsiale en franchise-spanne uitgedraf het.

Dit sal interessant wees om aanstaande jaar die groei van klubgetalle dop te hou en ook waar te neem hoeveel spelers uit klubgeledere na provinsiale spanne bevorder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.