Smaak verskil, maar ek glo ná baie jare se betrokkenheid by rugby steeds dat dit die wonderlikste van alle sporte is. Dit is ʼn spel wat in jou hart inkruip, en dit word steeds, selfs oorsee, as Suid-Afrika se nasionale sport beskou.
Maar selfs al dink jy by die ingewikkelde reëls verby, is daar talle, soms kleinerige, irritasies wat pla – en die meeste van hulle is tog eintlik só maklik vir veral die voorste skeidsregters (en hulle ondersteuningspanne by groot wedstryde) om dit uit te roei.
Kom ons begin by die voorspelers.
Die lynstaan
Hierdie irritasie, wat selde deur ʼn skeidsregter vasgevat word, kan seker grappenderwys voor die deur van Victor Matfield gelê word. Dié oud-Springbok was ʼn meester om ingooitekens by teenstanders se lynstane te ontsyfer.
Daar is oënskynlik nou ander wat soos Matfield die tekens kan “lees”, want daar word nou hoeveel keer in ʼn wedstryd “vergaderings” voor ʼn lynstaan gehou.
Ja, die dryfmaal dra baie daartoe by waar die taktiek van die komende lynstaan onder meer bespreek word. Swakhede van die teenstanders word uitgewys, en goed soos “ons gaan dryf en nie agterlyn toe speel nie”. Watter soort ingooi en na wie toe dit sal wees, word ook hier bespreek.
Maar jaag die manne tog asseblief aan!
Die skrum
Van die vernaamste irritasies vir toeskouers, televisiekykers én vir spelers, is die skrum.
Daar is hoeveel tegniese punte wat by skrums tot straf- of vryskoppe kan lei. Gebrek aan konsekwente toepassing, selfs by die voorste skeidsregters wie se toepassings in dieselfde wedstryd verskil, is ʼn opvallende probleem.
Allerhande veranderings met die ingooi by die skrum is al aangebring, maar word merendeels deur skeidsregters oor die hoof gesien.
Kom ons vergeet van die ou skewe ingooi. Daar was elke nou en dan die instruksie dat die bal reguit ingegooi moet word. Dit het in só ʼn mate verander dat die skrumskakel se skouer nou in die middel van die skrum mag wees. Dit beteken dat die ingooilyn, wat REGUIT MOET WEES, dus amper in lyn met sy voorry se voete is.
Tog word die skewe ingooie, selfs met hierdie reël, steeds deur heelparty voorste skeidsregters verontagsaam. En dan praat ons nie eens van die toepassing dat die haker na die bal moet haak nie.
Daar word allerweë gekerm dat die skrums minder tyd in beslag moet neem. Is dit werklik nodig om die skrum so aanhoudend te laat herset? Hoeveel keer kom die bal tóg by die skrumskakel uit en is dit in werklikheid “skoon” besit? En dít ná die voorrye geval het of die skrum selfs laat val is?
Laat die manne tog hier aanspeel en bring hulle dan onder die voordeelreël terug vir die skrum!
Gelukkig sien ʼn mens darem al hoe meer dat skeidsregters nié ʼn strafskop toeken as ʼn skrum bloot inmekaarsak nie.
Losskrum onkant
Onkant by die skrum moet ook meer konsekwent toegepas word waar die losskakel (of enige speler benewens die skrumskakel wat nie deel van die skrum is nie) binne die vyfmeterlyn van die agterste voet van sy span in skrum is. Hierdie reël is bedoel om meer beweegruimte aan agterlyne te gee, maar word te dikwels geïgnoreer.
Dan is daar natuurlik ook die moeilike oordeel van agter die agterste voet vir verdedigers by die losskrum en losgemaal. Terwyl die straf vir van die kant af inkom dikwels toegeken word, word heelwat bewegings in die middelveld gekeer omdat die verdedigende senter(s) allermins agter die agterste voet van sy losskrum is. (Gebruik maar weer die stopfunksie op jou rekenaar, dié keer by die losskrum, en kyk hoe steel die verdedigers veld.)
Oortredings by die neem van skoppe
Hoeveel keer is daar waarvan jy weet dat daar nie minstens een speler voor die bal met die afskop is nie? Neem dit gerus ʼn paar keer op jou TV op, stol die aksie met die afskop en kyk maar self. Dit geld ook vir die inskop.
Ook met skoppe te doen, is daar – veral opvallend wanneer daar ʼn effense onderbreking in die spel was – die geval waar die skeidsregter se merkie vir ʼn strafskop sommer die aanloopplek van die skopper word. Hy neem van daar af twee, selfs drie meter voordat hy skop. Dit beteken die lynstaan skuif insgelyks.
“Nou wat daarvan?” sou jy dalk vra. Die antwoord: Twee meter maak dikwels in algemene spel die verskil tussen ʼn drie of nie, en naby die doellyn is dit des – en ook by sekere skeidsregters – meer te verwag met die irriterende foute.
Klubrugby is aan ’t ontwaak ná Covid-stilstand
Terwyl feitlik al die rugbyunies nou aan hul klubstrukture werk en feitlik oral al met voorbereiding vir die nuwe seisoen begin is, staan die Bulle duidelik weer sterk met beplanning vir hul klubseisoen.
Dit is duidelik dat klubrugby in veral die destydse Noord-Transvaalse gebied nie veel tydens die Covid-tydperk ingeboet het nie.
Die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) het immers verlede jaar met ʼn volle Carltonbekerreeks deurgedruk, terwyl die Leeus met ʼn aangepaste kompetisie deurgedruk het. Dit was egter nie ʼn volwaardige Pirates Grootuitdaagbeker-reeks nie, en die Sharks moes halfpad teen die pandemie in hulle Moorbeker-reeks bes gee.
Die Boland met by die 400 klubs (en onthou, feitlik elkeen van hulle het meer as een span!) gaan hopelik deur Duitser Bosman reggeruk word. Dié bewese administrateur was die uitvoerende hoof van die Varsitybekerreeks en die man wat grootliks die lof vir die studentereeks se sukses moet kry.
Die Bulle se president, Willem Strauss, het die week op sy groep gewhatsapp dat van die BBRU se Carltonbekerklubs soveel as vier senior spanne, ʼn vrouespan en drie onder 20-spanne het. Daar is ook meer as 600 jeugklubspelers by die Bulle.
Dit is Strauss se doelwit dat die skole en klubs, soos van ouds in hul gloriejare, die voedingsbron moet word. Die Bulls gebruik reeds klubspelers om met die beperking van 40 professionele spelers per unie die Curriebekergroep aan te vul.
Trouens, die afgelope week het ʼn Bulls-vyftiental met vyf nie-gekontrakteerde spelers die Luiperds 45-19 gewen. (Toegegee, van die Luiperds se uitblinkers speel in die Varsitybekerreeks en is nie oorweeg nie.)
Twee neerlae kort na mekaar in onderskeidelik die Curriebekerreeks en die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) is natuurlik terugslae vir die Bulls, maar die gapings wat gelos is met die beserings en oorsese vertrek van onder meer die Springbokke Duane Vermeulen, Marco van Staden, Nazeem Carr, Ivan van Zyl en Trevor Nyakane, asook die ernstige besering van Johan Goosen, het uiteraard hul vinnige wegspring onder Jake White effens gestrem. Daar was nóg spelerverliese, party daarvan aan plaaslike unies.
Maar dan moet ʼn mens ook in ag neem dat die Leeus, Sharks en Stormers soortgelyke terugslae gehad het – en daar is ook die goeie nuus dat veral die Sharks hul diepte klaarblyklik reeds met MVM Holdings van die VSA se beherende aandeel-inspuiting begin uitbou.
Kyk mense nog na SA rugby, met al die honderde onbevoegde kwota spelers?
Kniebuig die grootste irritasie.
Inkonsekwente, arrogante skeidsregters het beslis gehelp maar kniebuig was vir my die doodskoot.
Ek geniet dit om Rugby te kyk en gaan nie toelaat dat ‘n paar ja ‘n paar spelers wat die knie gebuig het my weghou van die sport nie. Skolerugby, Klubrugby en Varsity Ruby is van die mooiste en lekkerste om na te kyk. Die wat nie wil kyk gaan kyk maar boer soek vrou of sewende laan.
Skeidsregters moet maatbande gebruik om die afstande hierbo gemeld te meet ?