Meningstuk: Semi-professionalisme druk skolerugby dood

Die wenfaktor begin ’n baie belangrike rol te speel. Foto: Verskaf.

Ai, waar is die goeie ou dae van gewone interskoletoernooie, waar derbies tussen twee skole alle rugbyspanne, dikwels ook hokkie, netbal, selfs vasvra en skaak, ingesluit het?

Die wenfaktor het die afgelope tyd in so ʼn mate hand uitgeruk dat skolerugby nou as semiprofessioneel beskou kan word. In die proses het hoërskole se finansiële aanbiedinge aan spelers en die teen-aanbiedinge van ander skole die verhoudings tussen ou tradisionele rugby-teenstanders vertroebel.

ʼn Voorbeeld hiervan is toe van die land se oudste rugbyskole, SACS en Wynberg, besluit het om nie weer teen Boishaai te speel nie. Die Paarliete het die memorandum van ooreenkoms verbreek wat 26 staatskole aangegaan het en waarvolgens onderneem is om nie spelers van ander skole af te rokkel nie.

Soortgelyke gevalle het die afgelope jare toenemend in KwaZulu-Natal, Pretoria en selfs oor ander rugbyunies se grense voorgekom.

Daar is veral kommer dat die lok van spelers met beter aanbiedings die sterker skole nóg sterker maak, dat die swakker skole toenemend nie meer teen hulle wil speel nie en dat die ongelyke mededinging heelwat seuns ontmoedig om met die spel voort te gaan.

Nieu-Seeland

Die toenemende professionalisme veroorsaak ook in Nieu-Seeland groot probleme. Die wêreld se voorste rugbyland verloor sedert 2014 jaarliks feitlik 5% van hul skolerugbyspelers terwyl skolebasketbal sterk groei.

Hul topskole bou nie van onder af van nege jaar tot 11 jaar oud nie en teiken net die supersterre, was een van die aantygings toe Saint Kentigern College, die voorste skool in Auckland, laat verlede jaar uit die 2019 Auckland 1A-skolekompetisie geskop is. Hulle is egter vanjaar weer as deelnemer herstel.

Van die vernaamste redes wat deur New Zealand Rugby se ondersoek vir die afname van skolespelers gegee is, sluit in die hipermededingende aard van sommige kompetisies. Dit hang saam met die skole se intense rugbyprogramme wat geskoei is op semiprofessionele akademie, die gefragmenteerde en verwarrende kompetisie- en mededingingstrukture, die tekort en gehalte van skoleafrigters, en veral die wen-teen-elke-prys-benadering wat vir baie seuns die vreugde uit die spel gehaal het.

Daar is vroeg vanjaar ʼn stelsel voorgestel waarvolgens kontraktering beperk word tot net twee spelers van ander skole se eerste spanne, met die verdere beperking dat hierdie spelers dan eers ses van hul nuwe skool se wedstryde moet misloop en nie in uitspeelwedstryde mag uitdraf nie.

Dit is uiteindelik nie geïmplementeer nie, maar is gerus iets wat deur die SA Skolevereniging nagevors kan word…

Laerskoolafrigting

Dit is egter nie net die “koop” van sterre om die eerste span te versterk nie. Dit is, soos in Nieu-Seeland gesê is, dikwels die gevolg dat die voederskole van die eliterugbyskole nie genoeg tot die hoërskole se rugbysukses bydra nie.

Wat volg is net ter illustrasie. Hierdie is nie die forum om al die soortgelyke voorbeelde te noem nie want dit kom by al die bonde voor en nie net in hierdie geval of net in die Wes-Kaap nie.

Maroela Media het toevallig die omsendskrywe met rugbyuitslae van ʼn laerskool gesien wat twee weke gelede met agt spanne teen die voerderlaerskool van een van die heel, héél voorste rugbyskole in die Wes-Kaap, trouens een van die topvier in Suid-Afrika, gespeel het.

Laerskool Durbanville het al agt die wedstryde gewen. ʼn Telling van 24-0 by die o. 13’s tussen die twee belangrikste spanne het beklemtoon watter harde werk op die verloorders se hoërskool wag as hulle tussen die vier bestes wil bly.

In die agt wedstryde teen die laerskool van die eliterugbyskool het die Laerskool Durbanville 257 punte teen 29 aangeteken.

♦ Is daar hoegenaamd enige afrigting van gehalte by Laerskool Durbanville se teenstanders, ʼn skool wie se hoërskool immers tussen die land se vier bestes tel?

Maar dié soort situasie in al die bonde is egter iets wat met ʼn paar beurse en selfs groot bedrae geld op die Cravenweek reggemaak kan word deur die bestes te koop, word in die Kaap gespot by skole wat te na gekom word.

By die o. 14’s is die hoërskool se span daarom reeds sterker as by die laer-/voederskool, nóg spelers word verkry in posisies waar die skool sukkel en siedaar: teen Graad 12 is hul ysters met ʼn hoogsbetaalde beroepsafrigter.

Wen is nie onderhandelbaar nie, want rugbysukses is waarop die skool se plakkaat van uitnemendheid geskoei word – en hierdie beroepsafrigter móét dus eenvoudig by die hoërskool regstel wat duidelik op laerskool agterweë gelaat is. Wen teen elke prys…

♦ En wat word elke volgende jaar van Hoërskool Durbanville wie se laerskool so goed vaar?

Hul beste spelers word ook deur die grotes “gekoop” wanneer hulle na graad agt toe gaan. Die ander spelers gaan grootliks na die hoërskool, met voortsetting van hul goeie vertonings soos deur so vele ander laerskole waar afrigting wel die erns is.

Dit waarborg egter nie sukses nie en hulle speel dan gewoonlik teen die tweede en selfs derde vlak hoërskole hul rugby.

KOSTE

Dit kos die ouers duisende der duisende om heen en weer te vlieg na waar hul bloedjies teen die beste in die ander groot stede speel.

ʼn Mens ys om te dink hoeveel die skole self moet bydra vir sulke wedstryde, veral in die gevalle waar van die jong helde se ouers nie self kan opdok vir die spul toere nie. En sou hierdie geld nie tot veel groter nut vir ander benodighede op skool aangewend kon word nie?

Wees maar net op ʼn Vrydagoggend by Kaapstad se lughawe wanneer skole van die binneland daar land vir die maak-of-breek-wedstryd teen een van die Kaapse grotes, of op die Sondag wanneer hulle huiswaarts keer. Ma’s, pa’s, soms selfs die uitgebreide gesin of familie, toer saam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

ChrisE ·

Soos alles in die lewe is daar ‘n begin en ‘n einde. Ek is bevrees dat dit lyk asof rugby se dae ook getel is en ‘n stadige dood gaan sterf. Agv die wêreldtendens van eie gewin gaan spansporte al hoe minder beoefen word. Golf en tennis gaan oorleef.

Kwagga ·

Ek stem glad nie saam dat daar alreeds op skolevlak spelers gekoop word nie. Skole wat koop veroorsaak dat ander skole wat nie in die posisie is om te koop nie, nie met sulke skole kan meeding nie. Dit veroorsaak n frustrasie en op die ou einde kwyn rugby al hoe verder. Ja wen is belangrik maar nie die alfa en omega nie. Om te verloor baat n kind baie meer daaruit in sekere gevalle en die sogenaamde “wen” kan arrogansie aanwakker wat totaal die lelik in sport uitbring. Hoekom neem ons deel aan sport of rugby in die geval…….dit gaan oor genot, ontwikkeling, aanleer van vaardighede maar ook om te leer wat is spanwerk, wat is lojaliteit, respek, goeie sportmangees ens. Die koop van spelers moes nooit toegelaat gewees het nie want kinders moet op n gesonde en gelykmatige wyse teen mekaar meeding met wen as n bonus. Dit is eintlik tragies hoe geld alles beheer. Waars die liefde vir die sport, opofferings ens, ek vra maar net.

LOL ·

Ons leef in gekke-paradys met al die sterk skole wat sterker word en die minder sterkes word swakker. Sekere skole kry elke jaar ‘n oorvloed onder 13 Cravenweek spelers in Graad 8. Dus moet sommige onder 14B-span speel waar hulle steeds onder 14A kon speel by minder sterk skole. Gou verloor hulle belangstelling en raak verlore vir rugby en die talentpoel raak kleiner.

Besorg ·

Is dit nie ‘n baie gesofistikeerde vorm van kinderhandel as enige leerder (nog lank nie 18 of 21 jaar oud) uit sy/haar ouerhuis na die ander kant van die stad of provinsie of land geneem word, met ‘n “beurs” en baie beloftes van geleenthede en spaninsluitings ens ens ens nie? …….. dit het tyd geword dat die blik vol beurse se wurns uitkom.

Gerrit ·

Besoek gerus die Paarl hierdié week en kyk hoe geld verkwis word en spogpoue hul vere pof. Sekere elemente sal nooit groot word nie.

Koos ·

Gerrit dalk is daar trots en waardering vir die goeie onderrig wat by hierdie skole ontvang is en nog steeds gegee word. Dissipline , etiese waardes en respek vir ander is wat nog steeds hier geleer word . Jammer jy kon nie dieselfde leer en wasrdeer nie. Kyk gerus ook na hierfie skole se akademise prestasies. Vriendelike groete

LOL ·

Korrek Gerrit; dit gaan oor egos en nie meer oor die kinders nie. Let wel Koos en Fanie dat Gerrit nie die akademiese aspek, kultuur of dissipline kritiseer nie, maar jul het die skoen aangetrek wat pas??

Gertjie ·

Senter van Wynberg is na Boishaai. Wanneer laas kon Wynberg of SACS vir Boishaai wen .Hulle wou net nie weer verneder word.

Fanie ·

Gerrit miskien is die oud leerders trots op die opvoeding wathille by die skole ontvang het en ouers wat hulle kinders in die skole het. Etiese waardes , disepline en respek vir ander is wat by die skole geleer word. Jammer jy kan nie ook so trots wees op joi Alma Mater . Vriendelike groete . Trotse Oud Leerder van die Paarl

Al ·

Kwagga, spelers word nie direk gekoop nie, maar dit bestaan wel. Hoërskool afrigters woon al die laerskole se wedstryde by en spelers word gelys. Hulle word nie direk gekoop nie, menende hulle word vrygestel van skoolfooie en koshuisgelde. (gewone ouer se grootste uitgawe). Kyk weer op Kyknet wanneer ‘n skolewedstryd uitgesaai word – baie van die spelers is nie plaaslike spelers nie. Op skolerugby se webtuistes kan jy ook gaan lees hoe spelers gekoop word.

Gertjie ·

Die gumboots dra baie lekker in die winter en dit help met die nat wèer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.