Messam sê ook Burger was die taaiste

Schalk Burger. Foto: Twitter.

Die voormalige All Blacks-losskakel het vroeër gesê dat Schalk Burger sy taaiste teenstander op die rugbyveld was. En Liam Messam stem ten volle saam.

“Wanneer ek op die veld was, wou ek my teen die beste en sterkste spelers gemeet het. Hoewel daar ’n paar reuse-losvoorspelers is, is daar niemand taaier as Burger nie,” het Messam in ’n rugbyrubriek geskryf.

“Ek dink Schalk was in baie opsigte amper die Bokke se geestelike en emosionele leier. Hy het dalk nie die besluite op die veld geneem nie, maar hy was ongetwyfeld die leier op die rugbyslagveld.”

Burger het in 86 toetse vir die Springbokke gespeel, terwyl hy as deel van die Stormers se Superrugby-opset ook teen Messam se Chiefs kragte gemeet het.

“’n Mens kon sien wanneer hy ’n ongelooflike lopie of ’n klipharde duikslag uitgevoer het, het die hele Bok-span weer in hulself begin glo.”

Carter het vroeër gesê hoewel Burger ’n monster op die veld was, is hy ’n wonderlike mens wanneer jy hom elders raakloop.

Nodeloos om te sê, het Messam ook hierdie stelling beaam.

“Eerlikwaar, Schalk is een van die vriendelikste mense wat ek ken. Ek onthou hoe ek hom destyds hoog getêkkel het en die Bokke het die daaropvolgende strafskop deur die pale gejaag om die wedstryd te wen. Ek was nogal depressief oor die uitslag, maar Schalk was die eerste ou wat my agterna kom moed inpraat het.”

In 2015 het Burger ’n Laureus-toekenning ontvang, grotendeels vir sy amper bomenslike deursettingsvermoë en wilskrag.

Skaars ’n jaar of wat voordat hy dié internasionale toekenning in ontvangs geneem het, het hy vir sy lewe in die hospitaal geveg nadat hy met breinvliesontsteking gediagnoseer is.

Volgens Maroela Media se destydse beriggewing het Burger glo die infeksie opgedoen ná hy ’n operasie moes ondergaan om druk op ’n senuwee te verlig wat die werking van sy kuitspier beïnvloed het.

“My vrou het my familie en vriende genader met die nuus dat ek dit dalk nie sou maak nie. Ek het vir vyf dae nie my oë oopgemaak nie en elke hartklop het soms gevoel asof iemand ’n mes teen my kop druk,” het Burger gesê.

Hy was uiteindelik ses weke lank in die hospitaal, terwyl die rehabilitasieproses ’n verdere agt weke geduur het.

Maar kort daarna het hy sy 100ste Superwedstryd vir die Stormers gespeel, terwyl hy ook ’n sleutelrol in die Bokke se Wêreldbekerveldtog van 2015 gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.