Met arrogansie kan jy jou vingers verbrand

Arrogansie is een van daardie woorde wat die All Blacks die afgelope paar jaar vermy het, en tog het dit die afgelope ruk in hul sêgoed en verklarings begin insluip. Nie van die spelers se kant af nie, want die kaptein, Kieran Read, en die afrigter, Steve Hansen, is te diplomaties daarvoor.

Maar op ander vlakke, soos die gewese afrigter Graham Henry wat ʼn paar weke gelede gesê het dat die Wêreldbekertoernooi vervelig raak omdat die All Blacks so oorheers. Daar is gesê dat die wêreldranglys ʼn grap is omdat die Wallabies derde is. Die haker Dan Coles het glo onsmaaklike aanmerkings teenoor Kurtley Beale oor die Wallabies se spesiaal-ontwerpte truie (om die inheemse bevolking te gedenk) gemaak.

Nou het dit die All Blacks aan die hakskeen gebyt nadat die Wallabies hulle Saterdag in Brisbane met 23-18 geklop het. Die All Blacks is steeds gerieflik voor Engeland op die wêreldranglys, maar die Wallabies het die gaping verklein.

Die krake het reeds aan die einde van verlede jaar begin wys toe die Iere hulle in Chicago geklop het.

Die All Blacks het vanjaar die reeks van drie toetse met die Britse en Ierse Leeus gedeel nadat die Leeus die tweede toets met 24-15 gewen en die derde toets met 15-elk gelykop geëindig het.

Die All Blacks het in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies in Dunedin deurgeskraap (35-29) en die Bokke met net een punt op Nuweland (25-24) geklop.

Hulle was in die eerste toets in die Rugbykampioenskap in Sydney met 54-6 teen die Wallabies voor, maar het 28 onbeantwoorde punte in die laaste 30 minute afgestaan.

Ja, hulle het die Bokke heeltemal onkant betrap en met 57-0 in Albany vermorsel, maar afgesien van dié vertoning en die eerste helfte van die toetse teen die Wallabies in Sydney, is daar stof tot nadenke, al is hulle steeds die beste span ter wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie ·

Het SA tog net sy kwotas weggegooi en beste spelers en beste afrigters gekies was AB dalk lankal nie meer no 1. Wereldrugby is op afdraande pad. Die geldgod het totaal oorgevat en vervreem die kykers.

Frans C ·

Sonder hul voorste slot en skerpste angel ,hul losskakel is die All Blaks kwesbaar.
Alhoewel Rieko Ioane ,Beauden Barrett en Ryan Crotty in wedloop geklop het ,is dit tog Beauden Barrett se vaart van die merk af wat hom dikwels buite die bereik van verdedigers plaas en sy agterlyn oor die voordeellyn kry.

Sonder hom lyk die All Blacks agterlyn doodgewoon.

Andre ·

Sal graag wil sien as All Blacks hul voorste vyftiental kan raak vat. Vreesaanjaend!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.