Met sulke rugby wag nog heelwat slae op die Kings

So verrassend goed as wat die Cheetahs Vrydagaand in hul oorwinning oor Leinster was, net so teleurstellend was die Southern Kings Saterdagaand teen Zebré in hulle Pro14-wedstryd in die Baai.

Zebré het met 43-17 gewen en hulle eerste oorwinning van die seisoen behaal nadat hulle rustyd met 22-3 voor was. Hulle was na vyf minute reeds 12-0 voor nadat hulle twee drieë gaan druk het.

Die wenspan was allermins klinies, maar die Kings het eenvoudig geen kans gestaan as jy na die wedstrydstatistiek kyk nie.

Hulle het minder as 30% van die besit gehad; ‘n raps meer as 300 m teenoor die meer as 800 m van die besoekers die bal gedra; byna 20 hanteerfoute gemaak en 14 strafskoppe afgestaan.

Verdediging was weer die Kings se doodsteek. Hulle het Zebré met opskietverdediging min beweegruimte gegee, maar telkens het die wittruie dan uit hierdie strik ontsnap na ʼn verbroude duikslag en lang ente veld gewen.

Dit was veral in die eerste helfte die geval. In die tweede helfte het die Kings vir sowat ‘n kwartier goeie rugby gespeel en mooi teruggeveg na 17-29, maar toe weer met swak verdediging enige belofte van ‘n verrassende sege weggesmyt.

Dissipline, of liewer die gebrek daaraan, op die aanval het die Kings ook duur te staan gekom met Zebré wat telkens met ʼn strafskop weer op die aanval gekom het.

Daar is ʼn hele paar uitstekende spelers in die Kings se span, maar jy kan nie met die gebrek aan gehalte en ervaring van die span teen enige span in ‘n gerekende liga gaan staan en wen nie.

ʼn Mens is bevrees dat niks sommer binne afsienbare toekoms gaan verander nie. As die Kings oor die volgende paar weke sou wen, sal dit eerder die teenstanders wees wat aangejaag het as voortreflike spel van die Baaienaars.

Sukkelende Zebré

So ʼn bietjie statistiek vertel hoe Zebré in hierdie Keltiese reeks sukkel:

♦  Hulle het verlede jaar in die 2016/’17-seisoen net vyf van hulle 22 wedstryde in die pro-12 gewen, net 35 drieë gedruk en 99 afgestaan, en derde laaste uit 12 spanne geëindig.

♦  Voorverlede jaar, in die 2014/’15-seisoen, het hulle laaste geëindig; net drie wedstryde gewen en net 27 drieë gedruk en 80 afgestaan,

♦  Saterdagaand het hulle ses drieë teen die Kings gedruk, en verlede naweek in hulle verloorwedstryd teen die Cheetahs vyf – dus, elf drieë in twee wegwedstryde in vreemde toestande teenoor 27 in 22 wedstryde voorverlede seisoen en 35 in 2016/’17.

Puntemakers –

Kings (3) 17: Drieë: Godlen Masimla, Luvuyo Pupuma. Doelskoppe: Pieter-Steyn de Wet 2. Strafdoele: De Wet.
Zebré (22) 43: Drieë: Tommaso Castello, Mattia Bellini, Renato Giammarioli, Tommaso Boni, Giulio Bisegni, Jacopo Sarto. Doelskoppe: Carlo Canna 4, Serafin Bordoli. Strafdoel: Canna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.