Met watter voet gaan Lions uit die bed klim?

Die Lions begin ʼn mens al hoe meer aan die Franse nasionale span laat dink.

Hulle was die afgelope twee seisoene die fakkeldraers van Suid-Afrikaanse rugby en het die vermoë om enige span te klop, maar wanneer hulle in ʼn Superrugby-eindstryd, of in die groepronde teen veral die Hurricanes of Jaguares speel, weet ʼn mens nie met watter voet hulle uit die bed sal opstaan nie.

Ja, hulle het die afgelope paar seisoene baie meer bereik as die Stormers, Bulls en Sharks en ja, hulle druk die meeste drieë, staan die minste af, wen die meeste veld, staan stewig in die skrums, lynstane en in die los.

Maar dis blote statistiek en hoeveel ondersteuners is bereid om die Lions ʼn wenkans te gee wanneer hulle Saterdagoggend in Wellington teen die Hurricanes speel?

Die Hurricanes het laas in 2013 ʼn wedstryd tuis verloor toe die Stormers hulle geklop het. Hulle het vroeër vanjaar op hul nerwe deurgeskraap toe hulle teen die Sharks gespeel het, maar dis die kenmerk van ʼn goeie span om diep genoeg te delf om deur te skraap.

Hulle het vier van hul afgelope vyf wedstryde teen die Lions gewen, drie daarvan was boonop op Ellispark en die gemiddelde telling in dié wedstryde was 30-20 in die ‘Canes se guns.

Afgesien van die skrumskakel TJ Perenara en die haker Dan Coles, is dit ook hul beste span.

Die Lions beleef ʼn wipplank-seisoen, dan is hulle op en dan af. Soms is hulle kookwarm en baie doeltreffend, soms louwarm en onbestendig.

Hulle het die Bulls, Sharks en Stormers redelik maklik geklop, maar teen die Blues op Ellispark verloor en dit het broekskeur gegaan om die Sunwolves met 40-38 uit te stof.

Hulle is boonop verlede Saterdag met 27-24 deur die Reds geskok, ʼn week nadat hulle die Waratahs met 29-0 oorrompel het.

As hulle teen die Hurricanes verloor, sal dit die eerste keer sedert 2014 wees dat hulle twee opeenvolgende wedstryde verloor.

Nou is die vraag, watter Lions-span gaan teen die ‘Canes uitdraf? Dié ene wat die Waratahs getroef het, of dié ene waaraan 11 veranderings ná die Reeds-debakel aangebring is om die ‘Canes te beproef?

Wat ʼn mens wel kan aflei, is dat die Lions met Kwagga Smith, Marnus Schoeman en Cyle Brink as ʼn losvoorspelerkombinasie, ʼn nuwe slotpaar en nuwe voorry die spel baie vinnig sal wil maak.

Sal dit genoeg wees?

Die spanne –

Hurricanes

15 Jordie Barrett, 14 Julian Savea, 13 Matt Proctor, 12 Ngani Laumape, 11 Ben Lam, 10 Beauden Barrett, 9 Finlay Christie, 8 Gareth Evans, 7 Ardie Savea, 6 Brad Shields (kaptein), 5 Michael Fatialofa, 4 Vaea Fifita, 3 Jeff Toomaga-Allen, 2 Ricky Riccitelli, 1 Toby Smith. Plaasvervangers: 16 James O’Reilly, 17 Chris Eves, 18 Ben May, 19 Sam Lousi, 20 Reed Prinsep, 21 Jamie Booth, 22 Ihaia West, 23 Nehe Milner-Skudder.

Lions

15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Elton Jantjies, 9 Nic Groom, 8 Kwagga Smith, 7 Cyle Brink, 6 Marnus Schoeman, 5 Franco Mostert (kaptein), 4 Lourens Erasmus, 3 Jacobie Adriaanse, 2 Malcolm Marx, 1 Dylan Smith. Plaasvervangers: 16 Robbie Coetzee, 17 Ruan Dreyer, 18 Johannes Jonker, 19 Marvin Orie, 20 Hacjivah Dayimani, 21 Ashlon Davids, 22 Rohan Janse Van Rensburg, 23 Sylvian Mahuza.

Skeidsregter: Nic Berry.

Assistent-skeidsregters: Ben O’Keeffe, Richard Kelly.

TV-skeidsregter: Shane McDermott.

Afskop: 09:35.

♦ Die Waratahs pak die Blues Saterdagoggend op Brookvalepark in Nieu-Suid-Wallis. Die omstrede en vlugvoetige Wallaby-heelagter Israel Folau is terug ná sy dyspierbesering en dalk kan hy die vonk aansteek om die Blues se seisoen verder te versuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genieve ·

Ek is n groot leeu ondersteuner dit maak nie watter span uitdraf nie hulle moet net 80 min speel en los die man speel die bal.Hulle weet hulle kan dit doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.