Metamorfose laat Silver Valke baie goed vaar

silver valke  4 nasiesDie Silver Valke van Silverton het die afgelope klompie maande `n gedaantewisseling ondergaan en sake lyk baie goed by die klub wat deesdae sommer baie goed vaar.

Só laat weet die klub se bemarkings- en mediabeampte, Peter Strauss,

“Teen die einde van die seisoen 2015 het dinge maar vaal gelyk. Die klub het gesukkel het om twee spanne vol te kry, maar dis vanjaar geen kwessie nie.

“Die komitee het November 2015 besluit om `n paar jong manne (spelers) in die bestuur te laat dien om te help om die klub weer terug te bring tot waar hulle dit wil hê.”

Die eertydse Silverton was `n gerekende klub wat op sy dag in die gedugte Noord-Transvaalse Carltonliga gespeel en in 1960 die Springbokvleuel Robert Twigge opgelewer het. In 1994 het die klub `n glansjaar beleef deurdat albei sy spanne hul ligas gewen het.

Strauss sê as `n mens die “vinnig vorentoe”-knoppie druk, sal jy nie die klub van 2015 in 2016 herken nie.

“Nou is daar `n span van tien afrigters, 19 bestuurslede, `n nuwe klubkaptein en `n volledige spelerskomittee.

“Die oefeninge lok 70 en meer spelers en daar is vier spanne in die Carltonliga B ingeskryf.”

Hy sê alles kan teruggevoer word na November 2015 toe die klub `n baie suksesvolle sewestoernooi gehou het.

“Sestien spanne het deelgeneem en oor die 600 mense het die dag bygewoon. Die klub het hier bewys hy is terug op die toneel en dat daar wel nog asem in klub rugby is.

“Vanjaar het begin met die jaarlikse Flya-toernooi waar die Silver Valke met Noordelikes en Korrektiewe Dienste afgereken het om die toernooi te wen. Die klub se eerste span het as prys `n nuwe stel truie gewen asook `n stel vir `n minder bevoorregde span. Die begunstigde sal binnekort bekend gemaak en die oorhandiging gedoen word.”

Strauss sê die eerste en tweede span se jaarlikse “Vier Nasies”-toernooi saam met Transnet Parke, Westelikes en Hartebeespoort het gevolg. Die Valke was onoorwonne in al hul wedstryde en albei spanne het die titel as toernooikampioen behou.

Die gekombineerde Rebels het op die Suidkussewes presteer.

Die gekombineerde Rebels het op die Suidkussewes presteer.

Hy sê die klub en Noordelikes het gekombineer om `n span, die Rebel, na die Suidkussewes op Uvongo te stuur. Die meeste van die spelers het eers die aand voor die tyd hulle spanmaats ontmoet, maar het die volgende dag uitgedraf en die toernooi se “bowl” gewen.

“As die enigste span uit Gauteng is dit `n geweldige prestasie siende dat die Natalse klubs maande vooraf al vir die toernooi geoefen het.”

Strauss sê al die klub se spanne vaar tans goed in die Carltonliga B.

“Die eerste span het dusver drie van sy ses wedstryde gewen; die tweede het vier uit ses gewen; die derde twee uit ses; en die Aasvoëls (die klub se oumanspan) is steeds onoorwonne.

“Met die jaar vyf maande oud lyk dinge goed by die Silver Valke en nuwe spelers daag nog weekliks by die oefeninge op. Die gees is ongelooflik goed.”

Die klub beoog om binnekort sy jeugklub met spanne van o.8 tot o.19 te laat herleef sodat die seuns die voorreg kan geniet om onder die vaandel van die Silver Valke te speel.

Strauss sê die Silver Valke is ook trots om te sê dat die klub die tuiste van dowe rugby in Pretoria is, met talle dowe spelers wat deel is van die spanne – sommige is van die toptalentvolles in die klub.

Hy nooi nuwe spelers om by die klub aan te sluit. Stuur `n e-pos aan [email protected], kyk op die Facebook-blad by http://www.facebook.com/silvervalkerugby of besoek die webtruiste by www.silvervalke.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae