Meyer druk jong Pollard in ‘n blik

Die Koekblik - West Pac-stadion

Die Koekblik – West Pac-stadion

Heyneke Meyer het Handré Pollard in ‘n baie dapper spankeuse voor die grootste uitdaging in sy kort loopbaan geplaas deur hom vir die toets teen die All Blacks in die Koekblik te druk.

Dis jammer dat die jongeling in die toets in die WestPac-stadion in Wellington (ook die Koekblik genoem) weer saam met die ontoereikende Ruan Pienaar as skrumskakel moet speel en dat François Hougaard nie ‘n opdrafkans gegun is nie.

Een van die redes vir Pollard se verkiesing is dat die Bokke dié toets “anders” wil benader, maar ‘n mens vrees vooraf dat ons ná Saterdag weer deur al wat rugbyskrywer op al Pienaar se gebreke uitgewys sal word. Soos dat hy stadig skoonmaak en dat sy taktiese skopwerk en aanvoeling glad nie op peil is nie.

Morné Steyn betaal waarskynik die prys nie net vir die manier waarop hy die Wallabies se sege op ‘n skinkbord aan hulle gebied het nie, maar ook vir sy algemene swak taktiese skopwerk – iets wat nou maar eenmaal een van die Bokke se grootste aanvalswapens is.

Die keuse van Pollard laat ‘n mens terugdink aan Gaffie du Toit se nagmerrietoets teen dieselfde span in 1999, toe Nick Mallett hom en Dave von Hoesslin vir die wolwe gegooi het. Die Bokke het 0-28 verloor en nie een van die twee spelers was daarna weer dieselfde nie.

Maar Pollard is nie Du Toit nie. Hy het in die Jong Bokkies se twee wedstryde teen die jong All Blacks getoon hy kan moeilike situasies hanteer. Hy is ‘n veelsydige aanvaller, is nie bang om die voordeellyn aan te val nie en skop goed pale toe en kantlyn toe.

Die All Blacks se hardebaarde is natuurlik iets heel anders, en ‘n mens kan maar net hoop dat sy voorspelers hom nie in die steek laat nie.

Meyer het ook laat blyk dat ‘n fiks Pat Lambie met genoeg wedstrydoefening dalk sy eerste keuse sou gewees het, en dit is dan ook die rede waarom hy op die bank sit.

Die Springbokafrigter het ook weer gewys op sy vertroue in kontinuïteit, dalk ook omdat hy sy span met die beskikbare spelers nie anders kón kies nie. Daar sal dalk wenkbroue opgaan oor Adriaan Strauss se keuse op haker, want daar is gedink Bismarck du Plessis is teen die Wallabies “gerus” vir die stryd teen die wêreld se nommereenspan.

Die Bokke se bank is net so behou, en dit is ‘n goeie agtal wat langs die veld sal sit.

Die span is:

15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Marcell Coetzee, 6 Francois Louw, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira.
Bank:Merwe, 19 Lodewyk de Jager, 20 Warren Whiteley, 21 Francois Hougaard, 22 Pat Lambie, 23 Damian de Allende.
Saterdag om 09:35 in Wellington

Skeidsregter: Jérôme Garcès (Frankryk)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.