Meyer en Domingo – wat is die verskil?

Heyneke Meyer (Foto GB Jordaan)

Heyneke Meyer (Foto GB Jordaan)

Baie vrae is die afgelope ruk gevra of daar twee stelle reëls by die afdanking van afrigters is.

Was ons te krities oor die Springbokafrigter Heyneke Meyer? Wat dan van Russell Domingo, die afrigter van die nasionale krieketspan?

Die groot verskil is dat `n krieketafrigter, iemand soos Domingo, se rol eintlik maar beperk is. Ja, krieketafrigters se koppe het al voorheen gerol, maar kom ons wees eerlik, hoeveel insette lewer hulle werklik? Speel hulle `n rol wanneer `n speler kolf, veldwerk doen of boul?  Nee!

Kan Domingo aan AB de Villiers of Hashim Amla se kolfwerk skaaf? Kan hy vir Dale Steyn en Morné Morkel raad oor hul boulwerk gee? Bepaal hy die wedstrydplan? Skryf hy tydens wedstryde aan AB of Hashim voor om om briek aan te draai of meer viere te moker?

Hy maak gebruik van kolfafrigters en oud-spelers soos Graeme Smith, Lance Klusener en  Gary Kirsten – legendes wat diep spore getrap het. Hulle bedien die jonger spelers van raad, hulle bestudeer en ontleed die topkolwers en gee dan raad in die nette of voor die rekenaar. Netso speel Charl Langeveldt en Claude Henderson (en voorheen Allan Donald) die rol as boulafrigters.

Rugyafrigters slaan die kitaar, want rugyspelers is hedendaags soos robotte wat hul opdragte uitvoer – dis hoekom hy hulle gekies het, om te speel volgens sy bloudruk.

Die Bokafrigter, en die bestuurspan wat hy met die hand uitgekies het omdat hulle in hom glo, bepaal die taktiek en wedstrydplan. Die Bokafrigter (ja, daar is Bokkeurders, maar hoeveel van hulle is al die afgelope 20 jaar afgedank?) neem alle besluite, ook wie in die opdrafspan en op die plaasvervangersbank is.

Die Bokafrigter gee tydens wedstryde raad, wanneer daar geskop moet word, wanneer daar gehol of geskrum moet word. Die afrigter bepaal wie en wanneer spelers vervang moet word. Hy is ten volle in beheer.

Dis hoekom die hele bestuurspan – nie net hier nie, maar ook in ander lande, vervang word wanneer `n afrigter gepos word of bedank. Dink maar aan Stuart Lancaster en sy Engelse bestuurspan. Die nuwe afrigter Eddie Jones het reeds op sy eie bestuurspan besluit en Graham Rowntree, Mike Catt en Andy Farrell is saam Lancaster gepos.

Netso glo ek sal Meyer se afrigtingspan (onder andere Johann van Graan, Ricardo Loubscher, John McFarland, Chean Roux en Pieter de Villiers) sal ook ander weivelde moet soek.

Die harde werklikheid is dat Springbokrugby gemeet word aan hoe die Bokke in Wêreldbekertoernooie vaar, hoeveel keer hulle die All Blacks geklop het.

Netso sal `n All Black-afrigter se kop rol as die Kiwi’s nie die WB wen nie en teen die Bokke verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Neels ·

Baie van die kommentaar hierbo gelewer is geregverdig. Ja, Heyneke Meyer het foute begaanDie feit is steeds dat Heyneke Meyer n ongelooflike mens en afrigter is en dat hy alles gegee het om van die Bokke n sukses te maak. Of hy meer invloed het as n krieket afrigter is die ander vraag. Ek was bevoorreg om albei sport soorte te beoefen en ek sal graag uit eie ondervinding soos volg wil reageer; In wese is die afrigters van albei kodes bestuurders. Hulle bestuur prestasie en verhoudings en hulle beplan… n Krieket afrigter is presies dit, hulle rig af, of dit nou kolf of boulwerk is dit maak nie saak nie. Hy het dalk minder insette gedurende n wedstryd maar kollektief is sy impak nie minder as die van n rugby afrigter nie. Domingo en Heyneke is dus in dieselfde bootjie.
Ek dink dit was n fout om Heyneke Meyer te laat gaan. Geen ander afrigter sou enigsins beter as Heyneke gevaar het teen die All Blacks nie, veral nie Wynand of Divan nie!

kobus ·

Daar is nie n verskil tussen n krieket en n rugbyafrigter nie. Wat die afrigter ookal sê, dinge gebeur op die veld wat die gang van n wedstryd bepaal. Albei afrigters het raadgewers. HM het teen die All Blacks verloor met n aanslaan deur n speler. Hy moes nou nog die afrigter gewees het. Politieke inmenging en provinsialisme het hom uitgedwing.

Stemja ·

Gary Kirsten het bedank, omdat hy meer tyd saam met sy gesin wil deurbring. Tog rig hy nou n ander span af, so dit maak sin as daar gese word Domingo dra nie veel by tot die spelers se prestasie nie! Hy het nooit Krieket gespeel nie en is maar net so goed soos wat die spelers vaar. Agv politieke inmenging is ons provinsiale krieket se standard nou so swak en dit verduidelik ook hoekom nasionale spelers wat nie meer span haal nie dubbele honderdtalle op prov vlak kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.