Meyer kies Oupa vir toets teen Wallabies

Oupa Mohoje (Foto: varsitycup.co.za)

Oupa Mohoje (Foto: varsitycup.co.za)

Oupa Mohoje as die nr.7-flank is een van drie veranderinge aan die span wat teen die All Blacks gespeel het vir Saterdag se toets teen die Wallabies op Nuweland.

François Hougaard speel skrumskakel in die plek van die beseerde Ruan Pienaar, terwyl Marcell Coetzee van nr.7-flank na die oopkant skuif. Nuwe gesigte op die bank is Cobus Reinach, Bakkies Botha, Schalk Burger en JP Pietersen

Dit is Mohoje se eerste begintoets nadat hy sy debuut teen Skotland van die bank af gemaak het. Dit span die kroon op sy droomseisoen waarin hy begin het deur Varsity- en Vodacomrugby te speel voordat hy weens `n klomp beseerdes in die Cheetahs se Superrugbyspan opgeneem is.

Cobus Reinach sal sy debuut van die bank af maak en volg in die spore van sy vader, Jaco, wat in 1986 in al vier toetse teen die Nieu-Seelandse Kavaliers vleuel gespeel het.

“François bring ander vaardighede vir die span en kry Saterdag sy kans, terwyl Oupa meer `n tradisionele steelkantflank is en hierdie seisoen groot vordering gemaak het,” het Heyneke Meyer gesê.

Hougaard het laas in 2012 teen Engeland in die beginspan gespeel

“Wat die plaasvervangers betref, het ons gevoel ons het `n paar ervare koelkoppe op die bank nodig. Dit is waar Botha, Burger, Lambie en Bismarck du Plessis inpas.”

Lwazi Mvovo en Warren Whiteley is vrygestel om die naweek vir hul Curriebekerspanne te speel en sal hulle weer Sondag by die groep aansluit.

Die span is:
15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (k) 11. Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Francois Hougaard. 8 Duane Vermeulen, 7 Teboho “Oupa” Mohoje, 6 Marcell Coetzee, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira.
Bank: 16 Bismarck du Plessis, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Bakkies Botha, 20 Schalk Burger, 21 Cobus Reinach, 2 Pat Lambie, 23 JP Pietersen.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.