Meyer se twee grootste kopsere

Foto: 3news.co.nz

Foto: 3news.co.nz

Die twee grootste probleme wat Heyneke Meyer in die gesig staar is nr.5-slot en skrumskakel.

Die nr.5-slot is die man wat die span en hul opponente se patroon die beste ken en lees en die roepe in die lynstane maak. Van die vier slotte in die oefengroep – Bakkies Botha, Lood de Jager, Eben Etzebeth en Victor Matfield –  is dit net Matfield wat aan hierdie vereiste voldoen en waarskynlik steeds die wêreld se beste is.

Meyer het `n jaar gelede gehoop hy kan Pieter-Steph du Toit vir hierdie rol grootmaak, maar hy het sedertdien `n langtermynbesering opgedoen. Die enigste nr.5 met Springbokondervinding is Juandré Kruger, wat in Frankryk speel en nie deel van die groep is nie. Hy ken die Bokke se roepe trouens so goed dat hy amok gesaai het vir die Wêreldspan wat in Junie teen hulle gespeel het.

Stephan Lewies (Sharks) het onlangs sy Springbokdebuut gemaak en spring op nr.5 maar is nie opgeroep nie.

Kragtens die IRR se reëls moet al die Europese Bokke vir die hele Rugbykampioenskap beskikbaar wees. Daar is `n rusperiode van twee weke in die middel van die reeks en hulle mag dan deur hul klubs gekies word.

Yslike terugslag

Die probleem is nog groter op skrumskakel noudat Fourie du Preez waarskynlik eers weer aanstaande jaar sal kan speel.

Meyer soek nou na `n nr.9 wat weet hoe en wanneer en waar om te skop, ‘n vinnige en lang diens aan sy losskakel kan lewer, die regte hardlopers kan uitsoek en nie op die verdediging slaplê nie.

Die Bokbreier erken dat Du Preez se besering `n yslike terugslag is.

“Ek weet nie of mense besef daar was ‘n groot evolusie in ons agterspel toe ons begin het om ook uit ons eie 22 te hardloop nie, en wat Fourie se aandeel daarin is nie.  Ons het nou al die kandidate probeer en ek sal bly by die drie – François Hougaard, Ruan Pienaar en Jaco Reinach – wat nou kans kry,” het hy gesê.

Dit maak ook `n einde aan die Rory Kockott-debat, want Meyer bly by sy standpunt dat hy niemand kies wat nie sy Springbokkleure in Suid-Afrika gekry het nie. Tot dusver lyk nie een van die huidige kandidate na veel van`n antwoord nie en kom nie een van hulle naby aan die diens wat Du Preez lewer nie.

Pienaar en Hougaard maak nie vinnig genoeg skoon nie en Reinach se skopspel is baie ver van ideaal as `n mens kyk hoe hy gesukkel het om die Sharks uit hul eie halfgebied te kry.

“Ons het briljante neges in die land wat van enige plek af kan breek en drieë druk. Dit is wat die publiek sien. Maar baie van ons drieë spruit uit spanwerk en ons soek `n man wat wat aan die agterlyn vinnige, goeie balle op die voorvoet kan gee,” aldus Meyer.

“Jaque Fourie en JP Pietersen is ook nie beskikbaar nie en daar is ‘n groot probleem met ons agterlyn se kontinuïteit. Dis iets wat ons in die eerste twee toetse sal moet oplos,” het die Bokbreier gesê.

Die Stormers se Damian de Allende was ‘n sterk kandidaat vir die Junie-toetse voor hy beseer is en kry straks nou sy kans in die afwesigheid van JP Pietersen. Jan Serfontein het ook ‘n goeie Junie-reeks op binnesenter gehad.

Gelukkig is die eerste twee toetse teen Argentinië, maar dit beteken ook dat hy nie noodwendig kan peiltrek op die agterlyn se vertonings teen verreweg die swakste span in die reeks nie.

Daar is ook `n gebrek aan diepte op agsteman, waar Duane Vermeulen na die enigste sterk kandidaat lyk noudat Schalk Burger in Japan speel. Buiten Willem Alberts is Warren Whiteley (Lions) en Nazeem Carr van die Stormers ook moontlikhede.

Vyf gekontrakteerde Springbokke is tans nie deel van Meyer se groep van 30 nie: Siya Kolisi, JJ Engelbrecht en Coenie Oosthuizen en Flip van der Merwe (beseer) en JP Pietersen (Japan).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.