Meyer stel drie mikpunte vir die Bokke

Foto: GB Jordaan

Foto: GB Jordaan

Kondisionering, skrums en taktiese skopwerk is die drie areas waarin die Springbokke vanjaar moet verbeter as hulle ‘n kans in die Rugbykampioenskap wil hê.

Dit was die mening van Heyneke Meyer by Maandag se mediakonferensie aan die begin van die Springbokke se eerste saamtrek vir die kompetisie wat voorlê.

Hy het ook gesê die span bly ingestel op ‘n patroon wat meer dimensies as skop en armdruk het.

Die span het verlede jaar die meeste toetsdrieë van alle spanne gedruk (aangehelp deur die agt toe hulle die Poemas met 73-13 oorrompel het) en in vanjaar se drie toetse het hulle 17 gedruk en nog ses teen die Wêreldspan.

“Niks is verder van die waarheid as wanneer daar gesê word ons is ‘n eendimensinele span wat nie drieë druk nie,” het die breier gesê.

Hy het daarop gewys dat die Springbokke se skrum in 2013 as die beste gereken is, maar dat daar ‘n insinking was. Dit is een van die areas waarop baie gekonsentreer sal word.

Daar sal ook nog baie aandag aan kondisionering gegee word, hoewel hy glo dit is tans beter as aan die begin van verlede jaar se Rugbykampioenskap.

“Ons sal in die eerste paar weke hard daaraan werk. Dit is die area waarin ons die meeste moet verbeter. Die oomblik wanneer spelers moeg word, verswak die verdediging en die skrums en begin die strafskoppe teen die span opbou.

“Die bal is tans langer in spel as ooit tevore. Voorheen was dit meer ‘n skopkompetisie en ‘n geval van armdruk. Die spel is deesdae baie meer oop.”

Hy is ook bekommerd oor ons taktiese skopwerk. Die Australasiese spanne het baie meer klem begin plaas op ‘n skakelpaar wat takties baie goed skop. Swak taktiese skopwerk was verlede jaar die Springbokke se ondergang in die kompetisie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.