Meyerton reken hard, ‘liefdadig’ met Buffels af

Conrad Swanepoel van Meyerton sit op loop met die bal teen die Buffels. (Foto: Maryke Slabbert)

Liefdadigheid of te nie, dit was ʼn genadelose stryd toe Meyerton en die Buffels van Grootvlei Saterdag op eersgenoemde se veld aanmekaar gespring het.

Meyerton het die kragmeting met 29-21 gewen.

Die wedstryd is gespeel ten bate van die stigting Go Purple, wat gemolesteerde kinders landwyd bystaan.

Anthony Lloyd, die voorsitter van Eurolux Meyerton Knights United, sê die span het besluit om die organisasie by te staan met geld, kruideniersware of op enige ander wyse wat hulle kon.

“Wat die wedstryd betref, was dit kliphard en was dit uit die staanspoor ʼn stryd om oorheersing tussen die twee agttalle.

“Dit was egter uiteindelik Meyerton se agterlyn wat die verskil gemaak, en met vernuftige hande die bal wyd laat loop het.

“Die vleuels het die meeste drieë gaan druk, met gapings wat geskep is deur pragspel van die senters en die losskakel.”

Meyerton se drieë is deur Shawn Prinsloo (vleuel, twee), Awie Vermeulen (vleuel) en Conrad Swanepoel (binnesenter) gedruk. Michael Bosman (buitesenter) het drie strafdoele behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.