Min om oor te juig ná die afgelope naweek

Daar was die naweek slegs ʼn paar opflikkerings vir Suid-Afrikaanse rugby, soos die oorwinning met 38-35 van die Barbarians (met 13 Springbokke in die groep) Saterdag op Twickenham teen die Argentynse Poemas.

Maar origens was dit maar ʼn bra donker naweek.

Die Blitsbokke, wat in ʼn herboufase is, het die nuwe sewesreeks op ʼn lae noot afgeskop toe hulle sesde in die eerste toernooi in Dubai geëindig het en drie uit ses wedstryde verloor het.

Hulle het slae gekry teen Argentinië, Engeland en Fidji. Wanneer laas het dit in dieselfde toernooi met die Blitsbokke gebeur?

Die Cheetahs en die Southern Kings het albei in die Pro14-reeks verloor. Die Cheetahs is in Bloemfontein met 21-17 deur Connacht geklop en Benetton het die Kings met 22-19 in Port Elizabeth verslaan.

Wanneer laas het dit tuis gebeur teen twee spanne wat sonder hul internasionale spelers moes klaarkom?

Die Cheetahs, wat verlede seisoen tot die uitspeelrondes deurgedring het, is nou voorlaaste (14 ligapunte) met net twee oorwinnings in tien wedstryde. Hulle is 24 ligapunte agter die voorloper, Leinster (41).

En die Kings? Weer laaste in afdeling B met net een oorwinning in tien wedstryde.

Ja, ja, ja, daar is baie beserings, maar hoe gaan dinge reggestel word ‒ en  veral omdat albei spanne nou ʼn blaaskans van byna ʼn maand kry terwyl die oorsese spanne in dié reeks en ook in ander reekse bly voortspeel?

Hoe gaan die Cheetahs en Kings se spelers oor die feesseisoen hul wedstrydfiksheid volhou?

Ja, daar was verlede jaar geen ander uitweg nie as om ʼn reddingsboei na die Cheetahs en Kings uit te gooi nadat hulle uit die Superreeks geskop is.

Maar sonder genoeg spelers met die nodige vaardighede, en sonder genoeg diepte?

Die Springbokspan het vanjaar ʼn slaagsyfer van slegs 50% gehad en daar word nou allerhande vergelykings met Allister Coetsee en ander afrigters se eerste jaar aan die stuur getref.

Vir die goeie orde, Nick Mallett het 16 van sy eerste  17 toetse in sy sowat 18 maande gewen met ʼn ongelooflike wenpersentasie van 94,11%.

Jake White en Peter de Villiers se wenpersentasie was albei 69% en dié van Heyneke Meyer 67%.

Coetzee se wenpersentasie in sy eerste seisoen was slegs 33%, maar hy het dit tot 53,4% in sy tweede seisoen opgeskuif voordat hy gepos is.

Die Springbokvrouespan het al drie toetswedstryde op hul onlangse Europese toer verloor en die vroue-sewesspan is Vrydag in Dubai in die eindstryd van Dubai se Uitnodigingstoernooi  (die topspanne speel in die Wêreldreeks) met 7-31  teen Japan verloor.

Ja, dit was ʼn donker naweek vir Suid-Afrikaanse rugby.

Gelukkig kan die Blitsbokke die komende naweek sake in die Kaapstad-toernooi regstel.

Gebeur dit nie, wag daar ʼn droë feestyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Baardman ·

Ek is nou net mooi keelvol van RassieErasmus,bokbreier se banggatgeid om Papier ‘n wedstryd te laat begin.
Hoe de hel gaan diè speler vertroue kry en op die internasionale front groei as hy gedurig met krummels tevrede moet wees?
Dis so duidelik soos daglig dat hy geen vertroue in Papier het nie.(vermoëns).Ek kry die gevoel dat Papier net daar is om Rassie se transformasie doelwitte te laat goed lyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.