Minder gaaprugby so in Rassie se kraal

Rassie Erasmus. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

Die pasvoltooide voorbereidingsreeks het darem vir ’n tikkie driedruk-opwinding gesorg en veral die laaste paar wedstryde – waaronder die Sharks teen die Bulls en die Stormers teen die Lions – het die nodige adrenalieninspuiting verskaf waarna ondersteuners gesmag het.

Hoewel spanne by verstek in ’n driefees gewikkel was wanneer hulle teen die Oostelike Provinsie gespeel het, is daar steeds 134 drieë in 16 wedstryde gedruk. Dit is ’n gemiddeld van net meer as agt drieë per kragmeting.

Die doel was juis om die spelpas ’n bietjie te versnel – veral ná daardie strafskop-skrum-oorstootdrie-strafskop-geploeter van die voorafgaande Curriebekerreeks.

Skeidsregters is onder meer gevra om toe te sien dat spanne minder tyd by skrums en lynstane mors, terwyl verskeie ander maatreëls ook ingestel is om sake ’n bietjie interessanter vir ondersteuners by die huis te maak.

En Rassie Erasmus is in sy noppies met hoe sake toe uitgedraai het.

“Ek wil graag die spanne, wedstrydbeamptes en ons uitsaaivennoot bedank vir die positiewe wyse waarop hulle ons aanbevelings aanvaar en toegepas het,” het SA Rugby se direkteur van rugby gesê.

Volgens Erasmus was die doel juis om die spel meer aanloklik vir kykers by die huis te maak. Spanne het die bal minder weggeskop en probeer – waar moontlik, natuurlik – om meer aanvallende rugby te speel.

“Daar word wêreldwyd druk uitgeoefen om die sport te verbeter. Om die spel te bespoedig en blaaskanse gedurende ’n wedstryd te beperk, het egter ook ’n gunstige uitwerking.”

Dit is nie net die spelers wat Erasmus-hulle se meesterplan in die voorbereidingsreeks gevolg het nie. Die betrokke afrigters en SuperSport verdien ook lof vir die wyse waarop hulle hierdie idees toegepas het.

“Die eindresultaat was meer aksie op die veld en ’n bereidwilligheid van die spelers se kant om eerder die aanvallende keuse aan te gryp en sodoende hul vaardighede uit te stal. Dit het natuurlik vir meer drieë gesorg wat dinge vir ondersteuners aansienlik opgekikker het.”

Van die voorbereidingsreeks se statistieke:

  • Drieë in reeks: 134
  • Drieë per span: Bulls (26), Sharks (24), Cheetahs (20), Lions (18), Stormers (15), Griekwas (13), Pumas ( 11) en OP (sewe).
  • Die meeste drieë deur ’n span in ’n wedstryd: Bulls (12) teen die Oostelike Provinsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.