Minder toeskouers wêreldwyd by rugbywedstryde

Toe SA se spanne nog toeskouers gelok het … (Foto: YouTube)

Met die letterlik miljarde wat deur televisiekanale in dié spel gepomp word en die goeie dekking wat gebied word, is rugbytoeskouers toenemend besig om hul gunsteling rugbyspanne uit die gemak van hulle voorhuise te volg.

Dit beteken minder toeskouers by die hekke, en uiteindelik ʼn hele spul leuenstoelkritici wat nog nie ʼn wedstryd bygewoon het nie.

Dit sal op die lange duur die doodskoot vir die sport wees.

Die toeskouerafname, wat in Suid-Afrika ook aan ander faktore soos politieke inmenging, die afwatering van die Curriebekerreeks en die groot trekpleister van die sterker oorsese geldeenhede toegeskryf kan word, is egter ʼn wêreldwye verskynsel.

Daar is eenvoudig te veel rugby – en ook te veel kompetisies wat ondersteuners verwar en dit vir hulle moeilik maak om tred te hou wat met hulle spanne aangaan.

Byvoorbeeld, van die Engelse Premierligaspanne speel ook in die Anglo Welsh-liga, en ook in die reekse om die Europese Kampioenebeker of die Europese Uitdaagbeker; Ierse spanne draf benewens die Pro14-reeks ook uit in die reekse om die Europese Kampioenebeker of die Europese Uitdaagbeker (en het hul eie klipharde derbies); die Skotte speel ook in hierdie twee Europese kompetisies en in die Pro14, het hulle eie ligakampioenskap en ook ʼn uitklopkompetisie; en Wallis se spanne speel in die twee Europese reekse (dit wil sê die Anglo Welsh-kompetisie en die Pro14-reeks).

Dan het die Franse hul voorste reeks, die Top14, terwyl die reeks om die Europese Kampioenebeker of die Europese Uitdaagbeker ook deel van hul verpligtinge is.

Toeskouerbywoning –

Superrugby: Die vier kwarteindstryde van die Superreeks vanjaar het in Christchurch (15 500), op Nuweland (27 500), in Canberra (9 000) en op Ellispark (26 000) toeskouers getrek – gemiddeld minder as 20 000 per wedstryd.

Oorsese reekse

Die 2017/18-reeks in die noordelike halfrond is reeds ver gevorder, genoegsaam om die afleiding te maak dat toeskouerbywoning sterk afgeneem het – selfs in ag genome dat verskeie uitspeelwedstryde teen die einde die syfers effe beter sal laat lyk.

Premierliga: Engeland se Premierligareeks, met gemiddelde toeskouerbywoning van 11 225 toeskouers vir die 66 wedstryde tot dusver in die 2017/18-reeks (meer as die helfte van die ligawedstryde), is dramaties minder as die gemiddelde van 15 065 van verlede seisoen (sowat 26%).

Top14: Die gewilde Franse Top1-reeks toon ’n afname van sowat 9%.

Pro14: Die huidige Pro14-reeks (voorheen die Keltiese reeks genoem) waaraan die Cheetahs en die Kings nou ook deelneem, het tot dusver hierdie seisoen ʼn gemiddelde toeskouerbywoning van slegs 8 024 toeskouers per wedstryd. Dit sluit die wedstryd verlede week tussen Munster en Leinster in toe 46 374 toeskouers by die Ierse derby opgedaag het.

Die leë stadions in Bloemfontein en die Oos-Kaap kom ook nie eers naby die laagste getal toeskouers in die reeks tot dusver nie ná meer as die helfte van die reeks se wedstryde reeds gespeel is.

Die rekord behoort aan die Italiaanse span Zebre, wat net 2 000 toeskouers vir hul wedstryd teen Connacht gelok het.

Verlede jaar, toe dit nog die Pro12-reeks was, het 1 184 091 toeskouers die 135 wedstryde bygewoon – ʼn gemiddelde van 8 771 per wedstryd. Dus ʼn afname tot dusver vanjaar van byna 9%.

Europese Kampioenebeker: In die reeks om die Europese Kampioenebeker het 15 195 toeskouers gemiddeld verlede seisoen opgedaag. Vanjaar, met feitlik driekwart van die reeks se wedstryde wat reeds beslis is, het die syfer reeds met 16% tot 12 862 per wedstryd gedaal.

Europese Uitdaagbeker: Die reeks om die Europese Uitdaagbeker, die tweede belangrikste kompetisie in Europa, het in die 2016/17-seisoen in sy 66 wedstryde net 483 750 toeskouers gelok – ʼn karige gemiddelde van 7 330 toeskouers per wedstryd, met die laagste bywoning 304 toeskouers.

Tot dusver vanjaar het 6 006 toeskouers per wedstryd opgedaag, ʼn afname van 18%.

Intussen wankel die sport op die goedgunstigheid/geldgierigheid van die televisiekanale, en word verreweg die meeste spelers meer betaal as wat die klubs kan bekostig …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sjo! ·

En nog minder Rsa toeskouers gaan kyk na die werfbokke ! Wel gedaan anc en Ac en Alexander en die hele vrot lot Saru!

Johan ·

Kwotas. Vanaf skolerugby tot junior SA spanne, regdeur tot provinsiale spanne en uiteindelik Springbokke. Dan moet die toeskouers seker ook maar aan kwotas voldoen.

Niklaas ·

Goed gestel. Stem saam. Dis glad nie meer n plesier om te sien hoe Bokke voort ploeter nie. Ek werk eerder in die tuin en kyk later na verkorte her uitsending om te sien hoe vrot hul alweer was. En ek was voorheen gek oor rugby !!

Veritas ·

Maak toegangsgelde bekostigbaar en kry ‘n ordentlike Sprinbokgroep bymekaar en julle sal sien hoedat rugbystadions weer uit hul nate bars.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.