Mitchell en Jones … koppestamp of ʼn meesterskuif?

John Mitchell (Foto: Facebook)

Dis ʼn resep vir ʼn rugbyramp …

Dit is nou te sê as die Engelse Rugbyunie (lees maar Eddie Jones) die Bulls-afrigter, John Mitchell, as die Engelse span se verdedigingsafrigter kan lok.

Die voelers is reeds uitgesteek en nou wag ons om te hoor of Mitchell die aanbod gaan aanvaar.

Ek betwyfel geensins die twee afrigters se vaardighede of kennis van die spel nie, maar om hulle saam in ʼn pot te gooi?

Koppestamp!

Dalk word ek verkeerd bewys, dalk werk hulle tog baie goed saam. Maar soos ek hulle ken, is dit twee botsende persoonlikhede wat albei rooi sien wanneer die doek voor hulle gehou word.

Jones is op soek na ʼn geskikte plaasvervanger in Paul Gustard se plek. Gustard, wat in 2009 deur Brendan Venter as Saracens se verdedigingsafrigter aangestel is, was sedert 2016 Engeland se verdedigingsafrigter voordat hy besluit het om eerder voortaan vir Harlequins af te rig.

Jones en Gustard het baie goed saamgewerk en Engeland het ʼn baie hegte verdedigingspatroon ontwikkel voordat dit die afgelope paar maande begin uitrafel het.

Ek het agting vir Mitchell as ʼn speler gehad toe hy destyds vir die Waikato Chiefs in die Superrugby-reeks gespeel het. Hard, genadeloos, maar ook vaardig.

Hy kon destyds al ʼn wedstryd opsom en die beste uit spelers bring, hoewel dit as afrigter soms ook sy einde by verskeie spanne beteken het.

♦ Kom ons kyk na die statistieke, want hulle lieg (glo) mos nooit nie.

Die Bulls het vanjaar 66 drieë afgestaan, die tweede meeste in die Superreeks (saam met die Blues en Reds).

Ja, sal daar gesê word, Mitchell wou die spel- en denkpatroon van die Bulls  verander (wat hy in ʼn mate binne ʼn paar maande reggekry het). Maar ai, dis mos nie lekker om soveel keer agter die pale te staan en kringetjie maak nie?

Mitchell was ook nie juis suksesvol by die Lions in 2011 en 2012 nie. In 2011 het hulle naas die Rebels die tweede meeste drieë afgestaan, en so ook in 2012.

Alles kan sekerlik nie op Mitchell se brood gesmeer word nie, maar as jy nie kan verdedig nie kan jy maar van bekers en trofeë vergeet.

Die groot vraag is of Mitchell, wat reeds by 16 spanne as afrigter betrokke was, bereid gaan wees om vir en na Jones te luister?

As die span wen, sekerlik ja, maar as hulle die dag verloor, wie gaan die pak op die ken vat?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos1 ·

“in hind sight” soos die engelsman sê, is ek van die opinie dat John nooit die Bulls joppie ernstig opgeneem het nie, en dit net beskou as ‘n tussentydse iets om te doen, totdat iets anders opdaag.
Twee weke gelede kom hy met die ding dat hy spelers wil koop vir miljoene. Het hy toe al geweet van die Engelse pos? Was dit sy bedoeling dat die Bulls hom vertel het dat hulle dit nie kan bekostig nie, en dat hy “rede” gehad het om te loop? Hy wou die reels van die spel gedurende die spel verander. Nee wat Bulls…. stuur hom maar in sy ……… Ons het nie iemand nodig wat soos hy optree nie. Stel vir Victor of ‘n oud SA/Bulls speler aan wat respek en waardes het, en dit sal baie beter gaan met die Bulls in die toekoms in.

Kapenaar ·

Lyk my Mitchell is oppad uit. Teen ‘n aardige oorkoop bedrag word ook genoem. Stonehouse, Dodson van WP en Matfield/Du Preez word genoem as moontlike opvolg kandidate.

Erik ·

Mitchell het aan die begin gesê daar word aanvaar aan al aandag gegee. DAARNA aan verdediging.

Verder: Hy is besig met ‘n drie jaar-proses.

Die messe kan vir eers gebêre word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.