Mitchell en sy Blou Bulle wreed ontnugter

Dit was ʼn wrede ontnugtering wat John Mitchell en sy Blou Bulle-span Vrydag in Nelspruit te beurt geval het.

Die Bulle se werklike ontgogeling wag egter waarskynlik Maandag op Loftus Versfeld wanneer hulle hul ongenaakbare nuwe afrigter vierkant in die oë moet kyk om die loesing van 15-51 teen die Pumas te verduidelik.

Die tuisspan was rustyd reeds met 22-10 voor, en ʼn span wat drie geel kaarte opstapel, kan nie juis verwag om wen nie.

Kefentse Mahlo (34ste minuut), Jano Venter (44ste) en Ruben van Heerden (49ste) se kaarte het daarvoor gesorg dat die Bulle 25 minute lank net 14 man op die veld gehad het. Vyf minute lank was daar net 13. Dit was 31 punte vir die Pumas werd.

Die Laevelders verdien egter lof vir hul puik vertoning, en sou waarskynlik in elk geval gewen het.

Mark Pretorius (haker) het drie drieë vir die wenspan gedruk.

Ná hierdie en hul indrukwekkende sege oor Griekwas, moet daar duidelik vorentoe rekening gehou word met die span wat onlangs nog heel laaste was.

En die Bulle? Ek is bly ek is nie John Mitchell nie – en nog blyer ek is nie ʼn Blou Bulspeler nie.

Dit lyk of dit niks kort van ʼn wonderwerk nie sal verg om te keer dat die bond dalk sy swakste Curriebekerseisoen in sy bestaan beleef.

Eerste Liga

Die Curriebeker- Eerste Ligaseisoen kon nouliks opwindender begin as met die gelykop uitslag van 42-42 tussen die Luiperds en die SWD Arende waarin eersgenoemde vyf en laasgenoemde ses driee gedruk het.

Die tuisspan was rustyd met 27-21 voor in die kragmeting op Olënpark, Potchefstroom, en ʼn doel vroeg in die tweede helfte het hom met 34-21 laat voorloop.

ʼn Geel kaart aan sy senter Henko Marais het die bordjies dramaties verhang, en die besoekers het sy afwesigheid benut om drie doele in te ryg, en die agterstand in ʼn voorsprong van 42-34 te omskep.

Die Luiperds moes kwaai sppok, maar kon die gelykmakende punte agt minute voor die eindfluitjie op die telbord plaas.

Gerhard Nortier (losskakel) het 17 punte vir die Luiperds behaal deur met vier doeksloppe en drie strafdoele te slaag.

Die punte –

Pumas 51 (22) – Drieë: Khwezi Mona, Mark Pretorius (3), Thembelani Bholi, Stefan Ungerer, Ruwellyn Isbell, Frankie Herne. Doelskoppe: Gerhard Smith, Kobus Marais (3). Strafdoel: Kobus Marais.

Blou Bulle 15 (10) – Drieë: André Warner, Warrick Gelant. Doelskop: Joshua Stander. Strafdoel: Joshua Stander.

Luiperds 42 (27) – Drieë: Joe Smith, Gideon van der Merwe, Juan Language (2), Jeandré Rudolph. Doelskoppe: Gerhard Nortier (4). Strafdoele: Gerhard Nortier (3).

SWD 42 (21) – Drieë: Jan van der Merwe, Dillin Snel (2), Martin du Toit, Tyler Fisher, Marlo Weich. Doelskoppe: Leighton Eksteen (6).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Proefvlug ·

Bring Nollis terug en dank die High Performance Manager J v Rensburg af.

Lucas ·

Geen afrigter sal nou ‘n verskil maak aan die spelers nie. Hulle is eenvoudig nie werd om vir die Bulle te speel nie !! Wie het die klomp gekontrakteer? Geen trots, selfvertroue of lus om te wen nie. Sterkte John M !!!

Adriaan ·

Nadat John Mitchell weg is by die Lions het hulle baie verbeter. Julle was die beste na hom. Hy gaan die die Bulle ook opmors.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.