Mitchell (en vierde kaptein) neem by Bulle oor

Nick de Jager – vierde kaptein. (Foto: Blou Bulle-maatskappy)

Verskeie wysigings, en ʼn vierde kaptein, lui John Mitchell se oorname van die Blou Bulle se Curriebekerveldtog Vrydag teen die Pumas in Nelspruit in.

Die meeste veranderings is deur beserings genoodsaak.

Die agsteman Nick de Jager neem die kapteinskap by die beseerde Burger Odendaal oor, nadat beserings ook Ruan Steenkamp en Boom Prinsloo se aanvoering kortgeknip het.

Prinsloo het van sy besering herstel, en vervang Shaun Adendorff op flank, wat op sý beurt vanweë ʼn besering op die kantlyn sit.

Die stut Lizo Gqoboka en binnesenter JT Jackson kry hul eerste kans in die opdrafspan, laasgenoemde in Odendaal se plek.

Gqoboka is deur die Springbokkamp vrygestel, en draf in Pierre Schoeman se plek as loskopstut op.

Die flank Jannes Kirsten is weer fiks en vervang Abongile Nonkontwana, wat in die beseerde Irné Herbst se plek slot toe skuif.

Piet van Zyl skuif bank toe, en André Warner is die opdrafskrumskakel.

Die Springbok-losskakel Marnitz Boshoff, wat op eie versoek deur die Ierse provinsie Connacht vrygestel is, is op die bank.

Edgar Marutllule is die nuwe bankhaker in Johan Grobbelaar se plek; en die oud-WP-speler Johnny Kotzé is die veelsydige agterspeler op die bank.

Die span –

15. Warrick Gelant, 14. Jamba Ulengo, 13. Dries Swanepoel, 12. JT Jackson, 11. Kefentse Mahlo, 10. Tony Jantjies, 9. André Warner, 8. Nick de Jager (kaptein), 7. Jannes Kirsten, 6. Boom Prinsloo, 5. Ruben van Heerden, 4. Abongile Nonkontwana, 3. Conraad van Vuuren, 2. Jan-Henning Campher, 1. Lizo Gqoboka. Bank: 16. Edgar Marutllule, 17. Dayan van der Westhuizen, 18. Clyde Davids, 19. Jano Venter, 20. Piet van Zyl, 21. Marnitz Boshoff, 22. Johnny Kotzé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.