Mitchell reken Bulls is ‘op koers’

John Mitchell (Foto: YouTube)

Die Bulls is “op koers” met hul voorbereiding vir die Superrugbyreeks, het die hoofafriger, John Mitchell, sake saamgevat na die span se littelosmaker Saterdag op Loftus Versveld, Pretoria, teen die Argentynse Jaguares.

Die tuisspan het met 21-12 gewen nadat hy rustyd 14-0 voor was.

Die Bulls het met tye sterk druk toegepas, maar die Argentyne het tog soms hul skrums ietwat ontwrig.

Mitchell reken egter hul taktiek druis teen die nuwe skrumreëls in – wat stabiliteit wil bevorder – en dat die skeidsregters hulle behoort vas te vat.

Die Pretorianers was die grootste deel van die wedstryd in die saal, hul verdediging weer eens rotsvas, en die Argentyne se doodsnikke-doel laat die telling vir hulle (die besoekers) beter lyk.

Warrick Gelant se drie was ʼn indrukwekkende stukkie spanwerk.

Die puntemakers –

Bulls 21 (14) – Drieë: Andel Loubser, Marco van Staden, Warrick Gelant. Doelkoppe: Manie Libbok (2), Handré Pollard.

Jaguares 12 (0) – Drieë: Julian Montoya, Javier Ortega. Doelskop: Nie beskikbaar nie.

Die res –

Die ander drie Suid-Afrikaanse franchise’e het reeds vroeër hul littelosmakers afgesluit.

♦ Verlede jaar se naaswenner, die Lions, was slegs teen die Bulls in aksie, waarskynlik omdat min van hul sleutelspelers voorseisoens beskikbaar was.

Die nuwe afrigter, Swys de Bruin, wat vyf jaar lank Johan Ackermann se assistent was, het laat blyk dat benewens enkele geringe aanpassings die Lions sal voortbou op die pad wat die afgelope klompie jare so suksesvol was.

♦ Robbie Fleck, die Stormers se hoofafrigter, is tevrede met die harde werk wat sy span in die “goeie” voorseisoen verrig het.

Hy sê hulle het ʼn klompie nuwe idees toegepas en sien uit daarna om hulle op die veld te laat geld.

Fleck het ná die Stormers se gelykop wedstryd teen die Bulls op Wellington erken dat daar nog skaafwerk wag, en ʼn mens wil dink veral die span se dissipline het sedertdien heelwat aandag geniet.

♦ Die Sharks se hoofafrigter, Robert du Preez, was in sy noppies met sy span se goeie sege teen die Franse klub Racing 92 in Hongkong, en hoewel hy toegee dat dit nog nie die eindproduk is nie, glo hy die span kan vanjaar opwindende rugby in die Superreeks lewer.

Nou is die tyd van praat verby, en sal die spanne op die veld moet toon waartoe hulle in staat is.

Die Lions begin hul Superrugby-aanslag eerskomende Saterdag teen die Sharks op Ellispark; die Stormers speel dié dag teen die Jaguares op Nuweland; en die Bulls het ʼn loslootjie. Die Pretorianers se veldtog begin ʼn week later teen die Hurricanes op Loftus Versfeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.