Modderbaddens se dae getel

Piet du Toitt en Chris de Nysschen op die 1956-Boktoer in Nieu-Seeland

Piet du Toitt en Chris de Nysschen op die 1956-Boktoer in Nieu-Seeland

Die dae van ʼn modderbad, waar spelers met rustyd hul gesigte in emmers water moet afspoel en truie ruil, is dalk binnekort getel.

Dink maar terug aan die ou Nuweland, wat as ʼn ‘koolplaas’ bekend gestaan het.

Dié toestande het die oorsese spanne gepas, want hulle was gewoond daaraan om op sulke velde en te speel. Dink ook maar terug aan die toere na Nieu-Seeland en Brittanje, waar die Bokke (en hul teenstanders) mekaar skaars kon uitken.

ʼn Mens kon ook agterkom watter spelers hul lywe op die spel geplaas het, want hul truie en broeke was sommer vroeg al vol modder en byna onherkenbaar, terwyl een of twee bangerige agterspelers nooit nodig gehad het om truie en broeke te ruil nie.

Al hoe meer klubs in Brittanje belê deesdae in sintetiese oppervlakke, wat tot baie groot voordeel van dié spanne sal strek.

Dit volg nadat Engelse Rugbyunie sowat R820 miljoen as nalatenskap van die Wêreldbekertoernooi beskikbaar gestel het om 100 rugbyvelde van sintetiese oppervlakke te voorsien. Verskeie van die voorste klubs het dit reeds gedoen, soos Saracens, die Newcastle Falcons, Glasgow Warriors en Cardiff Blues.

Boland op die aanval teen die Pumas in `n Curriebekerwedstryd verlede jaar

Boland Landbout en Paarl Gimmies is in die modder feitlik onherkenbaar (Foto ysn.co.za)

Amerikaanse voetbalklubs speel al jare op sintetiese oppervlakke, so ook sokkerklubs in Europa, maar daar word nie op geskrum of gerolmaal nie. As die sintetiese oppervlakke dié toets kan deurstaan, sal dit ʼn nuwe tydvak  vir rugby inlui.

Saterdag in die kragmeting tussen die Glasgow Warriors en Munster het net twee skrums in duie gestort en dit was omdat die spelers nie reg gebind het nie en te vinnig ingeslaan het. Daar was minder hanteerfoute, spelers het langer op hul voete gebly en kon vrylik aanval.

Só ook kan sneeu  betyds van die oppervlak geskraap word en die goeie dreinering sal spanne in staat stel om hul bepalings na te kom, al reën dit ook hóé hard.

Maar ai, as daar nie meer in die modder gebaljaar kan word nie, waaroor sal daar oor 20 jaar gepraat word?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janneman ·

Die foto is verkeerd dit is Paarl gym teen boland landbou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.