Die dae van ʼn modderbad, waar spelers met rustyd hul gesigte in emmers water moet afspoel en truie ruil, is dalk binnekort getel.
Dink maar terug aan die ou Nuweland, wat as ʼn ‘koolplaas’ bekend gestaan het.
Dié toestande het die oorsese spanne gepas, want hulle was gewoond daaraan om op sulke velde en te speel. Dink ook maar terug aan die toere na Nieu-Seeland en Brittanje, waar die Bokke (en hul teenstanders) mekaar skaars kon uitken.
ʼn Mens kon ook agterkom watter spelers hul lywe op die spel geplaas het, want hul truie en broeke was sommer vroeg al vol modder en byna onherkenbaar, terwyl een of twee bangerige agterspelers nooit nodig gehad het om truie en broeke te ruil nie.
Al hoe meer klubs in Brittanje belê deesdae in sintetiese oppervlakke, wat tot baie groot voordeel van dié spanne sal strek.
Dit volg nadat Engelse Rugbyunie sowat R820 miljoen as nalatenskap van die Wêreldbekertoernooi beskikbaar gestel het om 100 rugbyvelde van sintetiese oppervlakke te voorsien. Verskeie van die voorste klubs het dit reeds gedoen, soos Saracens, die Newcastle Falcons, Glasgow Warriors en Cardiff Blues.
Amerikaanse voetbalklubs speel al jare op sintetiese oppervlakke, so ook sokkerklubs in Europa, maar daar word nie op geskrum of gerolmaal nie. As die sintetiese oppervlakke dié toets kan deurstaan, sal dit ʼn nuwe tydvak vir rugby inlui.
Saterdag in die kragmeting tussen die Glasgow Warriors en Munster het net twee skrums in duie gestort en dit was omdat die spelers nie reg gebind het nie en te vinnig ingeslaan het. Daar was minder hanteerfoute, spelers het langer op hul voete gebly en kon vrylik aanval.
Só ook kan sneeu betyds van die oppervlak geskraap word en die goeie dreinering sal spanne in staat stel om hul bepalings na te kom, al reën dit ook hóé hard.
Maar ai, as daar nie meer in die modder gebaljaar kan word nie, waaroor sal daar oor 20 jaar gepraat word?
Die foto is verkeerd dit is Paarl gym teen boland landbou
Dankie. Reggemaak.