Die Bulls het die laaste wedstryd van die span se Europese avontuur met 31–23 teen Edinburgh verloor.
Die nederlaag beteken dat die Pretorianers nou die derde plek op die amptelike Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer beklee, maar ʼn paar tuiswedstryde wink nou op Loftus Versfeld vir die spelers in blou.
Marcell Coetzee se rooi kaart – sy skouer het kontak met Pierre Schoeman se kop gemaak – en Chris Hanekom se geel kaart het die deur in die tweede helfte vir die Skotse span oopgemaak om ʼn terugvegpoging uit te voer.
Met 13 spelers op die veld het die Bulls se rustydvoorsprong van 13–11 binne ʼn japtrap in ʼn agterstand van 21–13 verander.
Rugbyondersteuners in die Jakarandastad kan tereg mor oor die bestendigheid van die beslissings, veral nadat daar slegs ʼn geel kaart in die rigting van Edinburgh se Bill Mata geswaai is toe hy ʼn soortgelyke duikslag as Coetzee uitgevoer het.
Maar die VRK-silwerware word beslis nie in November gewen nie en die Bulls kan tevrede wees met hul vertonings in Europa.
Boonop kan die Pretorianers ook binnekort weer op die vlugvoetige spel van Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie reken.
- Puntemakers:
Edinburgh: Drieë: Ewan Ashman (2), Duhan van der Merwe en Bill Mata. Doelskop: Ben Healy. Strafskoppe: Healy (3).
Bulls: Drieë: Devon Williams en Elrigh Louw. Doelskoppe: Johan Goosen en Jaco van der Walt. Strafskoppe: Goosen (2) en Van der Walt.
- Bulls se volgende wedstryd: 25 November teen Connacht op Loftus Versfeld.
Johan Goosen flexin' top of the league behaviour ????????????#BKTURC #URC | #EDIvBUL pic.twitter.com/FsCi7tG7qU
— BKT United Rugby Championship (URC) (@URCOfficial) November 17, 2023
- VRK-punteleer:
- Ulster: 18 punte ná vyf wedstryde
- Edinburgh: 17 punte ná vyf wedstryde
- Bulls: 15 punte ná vyf wedstryde
- Leinster: 15 punte ná vier wedstryde
- Glasgow Warriors: 15 punte ná vier wedstryde
- Connacht: 14 punte ná vier wedstryde
- Benetton: 14 punte ná vier wedstryde
- Munster: 13 punte ná vier wedstryde
- Stormers: 11 punte ná vier wedstryde
- Zebre: 11 punte ná vyf wedstryde
- Ospreys: 10 punte ná vier wedstryde
- Cardiff: 9 punte ná vyf wedstryde
- Lions: 9 punte ná vyf wedstryde
- Scarlets: 6 punte ná vier wedstryde
- Dragons: 2 punte ná vier wedstryde
- Sharks: 1 punt ná vier wedstryde.