Moenie die Blou Bulle afskryf nie , of is dit wensdenkery?

Die Blou Bulle is nog nie uit die Curriebekerwedloop nie.

Wat het dié man gerook, sal baie lesers seker vra. Maar as  ʼn mens die Bulle se vertoning in Sondag se kragmeting met die Westelike Provinsie ontleed en die oorblywende wedstryde in die groepronde in ag neem, kán hulle nog by die agterdeur inglip.

Die Bulle het net 22 punte en is sesde op die puntelys ná die Sharks (47), WP (32), Vrystaat (30), Goue Leeus (25) en Pumas (24) met Griekwas (21) laaste. Maar die Bulle se pad vorentoe is dalk met die minste dorings besaai.

Kom ons weeg die spanne op:

Sharks (47 punte): Die Sharks is verseker van ʼn tuishalfeindronde en hul oorblywende wedstryd tuis teen die WP kan as ʼn kleedrepetisie dien vir ʼn moontlike eindstryd. Hulle sal bo eindig en kan nie meer ingehaal word nie.

WP (32 punte): Speel nog weg teen die Goue Leeus (teen die Vrystaat-Cheetahs) en weg teen die Vrystaat Cheetahs. Hulle kan een of dalk albei wedstryde wen om tweede te eindig.

Vrystaat Cheetahs (30 punte ): Die Vrystaat bly ʼn onbekende faktor – die een week op en die ander week af. Speel hulle soos Saterdag in Kimberley teen Griekwas toe hulle met 59-24 oorrompel is, kan hulle vasval, maar toon hulle veggees soos onlangs teen die Pumas, kan hulle derde of selfs tweede eindig. Die Vrystaat speel Vrydag tuis teen die Bulle en sluit aanstaande naweek af teen die Goue Leeus op Ellispark. Hulle kan een wedstryd wen, of albei verloor.

Goue Leeus (25 punte): Tuis op Ellispark teen die WP en dan teen die Cheetahs. As Swys de Bruin se jongelinge een keer wen, is hulle koppe straks deur vir ʼn derde of vierde plek.

Pumas (24 punte): Hulle moet Griekwas in die Mbombela-stadion klop (dis baie moontlik) en dan bonuspunte teen die Bulle op Loftus kry as hulle dalk verloor. Hulle kan vierde eindig.

Blou Bulle (22 punte): Die saadjie wat John Mitchell geplant het, is besig om te ontkiem. Die spelers aanvaar stelselmatig sy spelpatroon en hoewel die verdediging nog veel te wense oorlaat, kan ’n mens sien dat daar iets aan die broei is. Dis ʼn buitekans, maar as hulle die Vrystaat (Bloemfontein) en Pumas (Loftus) klop en bonuspunte verower, glip hulle by die agterdeur is.

Griekwas (21 punte): Net een wedstryd teen die Pumas oor en sal tot aanstaande jaar moet wag.

Werk maar gerus die vele permutasies uit watter spanne wat moet doen om die halfeind kan haal….

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nico K ·

Ek stem saam. Die Bulle behoort hulle laaste twee wedstryde te wen. Die Leeus, met net 3 punte meer, het moeiliker wedstryde. Die groot vraag is, wat gaan die Cheetahs maak. Die kans is daar dat hulle 14 Okt hulle beste span teen die Leeus speel. Daar is geen Pro 14 wedstryde daardie naweek nie. En die WP het ook nog 2 moeilike wedstryde, so ook hulle pad is nie verseker nie. Weereens is die vraag of die Haaie hulle sterkste span gaan kies vir die laaste wedstryd. As hulle dit dit nie doen nie verbeter die WP se kans aansienlik.

Veritas ·

So’n groot Bulle-ondersteuner as wat ek vir meer as 50 jaar was, net so min gee ek om vir die hedendaagse span. Om een of ander rede wil dit voorkom asof die gehalte van Bloubulrugby, verswak het met die verbetering van die bure anderkant die Jukskei. Noudat Johan Ackerman weg is, sal ons aanstons sien of die fout by die spelers of afrigter lê. Plaas dat die Bulbestuur hul trots gesluk en Heyneke Meyer weer aangestel het. Nou sit ons met ‘n uitlander wat geen benul het van Bloubulrugbypassie nie. Ek voorspel dat Loftus al leër en leër gaan word totdat die Bulle weer Bloubulrugby met Bloubulpassie speel en Bloubulondersteuners met trots hul span ondersteun. Om te wen is alles maar ‘n goeie verloorder is altyd ‘n verloorder.

Karma ·

Ek sou net daarvan gehou het om die wedstryd, soos SuperSport dit geadverteer het, om 14:20 te kon kyk ……. maar ‘tegniese probleme’ (sekerlik ‘n spul ou tantes wat gekla het oor die wedstryd Sondag gespeel is) het uitsending daarvan onmoontlik gemaak. Dankie, Superport ….. dankie, vir niks!

A ·

Jy kan maar die bulle afskryf. Hulle is erger as Bafana Bafana.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.