Moenie die Lions afskryf nie, sê De Bruin en Hansen

Steve Hansen

Vergeet van Crusaders se prestasies en rekords. Twee rugbyafrigters wat hul storie deur en deur ken, glo die Lions kan Saterdag (09:35) in Christchurch die Superrugby-eindstryd wen.

Die een is die Lions se afrigter, Swys de Bruin; die ander is Steve Hansen, die man wat die All Blacks-span kies en afrig.

Hansen, wat dié week nog na die Crusaders se voorhoede as die “Rolls Royce” onder voorspelerpakke verwys het, het Woensdag in ʼn media-onderhoud gesê oorgerustheid kan die tuisspan kelder.

“Natuurlik het die Lions ʼn kans om te wen, al sal die Crusaders as gunstelinge op die veld draf ná ʼn seisoen waar hulle uitstekende rugby gespeel het.

“Die Crusaders se ondersteuners moet besef daar is geen waarborg dat hul span sal wen nie. Hulle sal moet opdraf en die oorwinning gaan verdien teen wat ek as ʼn baie goeie span beskou.

“In ʼn wedstryd soos dié wonder jy wie die skrums gaan domineer en jy kan nie regtig voor die wedstryd voorspel watter span dit sal wees nie. Dieselfde geld vir die lynstane.

“Dit gaan dus ʼn geval wees van watter span vir die wedstryd ‘opdaag’, watter span die beste besit aan sy agterlyn kan verskaf. Dit is twee baie goeie agterlyne wat agter twee uitstekende pakke voorspelers teen mekaar speel.”

♦ De Bruin gee toe dat die Crusaders die gunstelinge is om as kampioenspan gekroon te word. Maar hy meen ook dat enige span geklop kan word. “Dit hang af van wat op die wedstryddag op die veld gebeur.”

Hy meen die karakter wat sy span gedurende die seisoen gewys het toe beserings, onder meer, hul veldtog bedreig het, het hulle deur die seisoen tot sukses gedra ‒ en dat dit hierdie karakter is wat die Lions kan laat verras.

Dis vir die Lions ʼn eer om in Christchurch te wees, sê De Bruin, en hy sal nie die negatiewe kommentaar oor hul kanse en hoe goed die Crusaders is, ter motivering gebruik nie.

“Ons fokus eerder op die teenstanders en op die taak wat voorlê,” het hy aan die media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wesley ·

Die game is alreeds by Jantjies verloor nog voor hul die leeus opgedaag het …sorry…

Jean ·

Wow wesley deesdae laaik ek jou nogal meer..Jy begin al hoe meer die waarheid praat…so pas klaar die game gekyk en geweet ou Elton is n risiko nog voor die game begin het…
En ou daar gebeur al die bewyse toe..ou Elton maak droog op sy eie doel lyn, dit word toe n drie vir die Crusaders…..Ou Elton skop die bal doelloos die die bloue hemel in nie ver van sy eie doel lyn nie en wat gebeur ja jy raai dit…..nog n Crusaders drie…nou waar is ou Henry nou en ou Frans.?Mense mense mense kry dit nou maar vir altyd en ewig in jul koppe jul kan nie oorlog toe gaan met halwe gebakte kwota spelers teen die bestes in die wereld nie…dan moet jul maar verwag om ELKE liewe keer te verloor…Mooi poging lions…

Jakkalas ·

Sterkte Leeutjies!!! Gaan speel julle harte uit en verras almal met julle durf en deursettings vermoë. Wys hoeveel karakter daar in julle is. The Crusaders is ‘n kampioen span maar gaan gee hulle al hulle hel op daai veld. Geniet die game en gaan maak ons almal trots.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.