‘Moenie Polisie in Goue Bekerreeks afskrywe nie’

Lugga van Biljon druk `n drie in sy Tukkie-dae. (Foto: UP-argief)

Lugga van Biljon druk `n drie in sy Tukkie-dae. (Foto: UP-argief)

Pretoria Polisie kan geensins in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker afgeskryf word nie.

Só waarsku Johann Kluyts, `n woordvoerder van die klub, nadat Centurion die Bobbies Saterdag in die kwarteindronde van die Carltonliga A uitgeskakel het.

Centurion het 30-20 gewen.

Kluyts sê Centurion het sy oorwinning terdeë verdien en behalwe vir `n opflikkering in die tweede helfte moes Polisie deurgaans inhaalrugby speel.

“Dus is dit baie geluk en welverdiend aan Centurion. Hy het goeie, aanvallende rugby gespeel en puik verdedig. Met meer geluk en beter stelskopwerk kon hy selfs verder gewen het. Veral die losskakel, Stanley Twiname, het Polisie se verdediging dikwels oopgekloof.”

Wat die reeks om die Goue Beker betref, sê Kluyts Polisie het `n baie goeie en gebalanseerde span.

“Ongelukkig het swak hantering en die onnodige afstaan van balle in kontaksituasies `n epidemie geword.

“Ek sê al die hele jaar `n mens speel rugby teen teenstanders en nie teen jouself nie.

“Polisie se spelers het `n hele maand om aan hul hantering te skaaf. Kom ons hoop hulle doen dit en dan is ek seker hulle sal onder die topspanne eindig.”

Kluyts sê die agsteman Lugga van Biljon was weer puik vir Polisie.

“Kan die Bulle nie plaaslike talent raaksien nie?” wil hy weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cheetah ·

Nee hulle koop Vrystaat spelers om die Cheetahs swakker te maak. Hoeveel Vrystaat spelers is al Pretoria toe en sit nie eers op die bank nie. Hulle doen dit al jare. Daar is meer as grnoeg spelers in die Carlton liga om nog n Bul span te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.