Moenie simpel goed aanvang nie, sê Os vir Bokke

Os du Randt. Argieffoto.

In 1995 het Os du Randt saam met Francois Pienaar die William Webb Ellis-beker omhoog gehou en 12 jaar later in Parys het hy dieselfde trofee saam met John Smit gelig.

Os weet dus waarvan hy praat wanneer daar oor Wêreldbeker-eindstryde gepraat word.

“Moenie stupid goed op die veld aanvang net omdat jy ’n punt wil bewys of omdat die adrenalien te sterk deur jou are bruis nie,” het die veteraan van 80 Springbok-toetse aan rugbyworldcup.com gesê.

“Jy wil nie die skeidsregter in die prentjie bring nie, want ’n geel of rooi kaart kan beslis ’n bepalende faktor wees.”

Du Randt het verder op die Bokke se voorspelers ’n beroep gedoen dat hulle die spel moet oorheers.

“Ons voorspelers sal op die dag van die eindstryd hul sokkies permanent opgetrek moet hou. Hulle sal die vaste fasette en die skrums moet oorheers. Dít is hoe ’n mens met jou teenstanders se kop smokkel en hopelik gooi hulle dan die handdoek in.

“Indien Engeland voorlangs die kitaar slaan, sal dit ’n absolute skande wees – veral as jy na die ongelooflike gehalte van ons voorspelers kyk.”

Australië se Matt Giteau en Drew Mitchell het snaaks genoeg net drie Suid-Afrikaanse spelers in hul gekombineerde Springbok/Rose-droomspan vir die eindstryd gekies.

Die Aussie-duo het vir Malcolm Marx, Siya Kolisi (sesflank) en Duane Vermeulen (agtsteman) in hul gekombineerde beginvyftiental vir die eindstryd gekies. Kolisi sal dié denkbeeldige span dan aanvoer.

Dan het hulle vir Ben Youngs bo Faf de Klerk op skrumskakel gekies.

In die uitklopwedstryde het Engeland se Youngs die bal 17 keer geskop en die Bokke se De Klerk 36 keer.

Tog het De Klerk in die ganse toernooi 29 duikslae uitgevoer, teenoor die Brit se 13 têkkels.

En in ’n eindstryd kan goeie verdediging deurslaggewend wees.

Du Randt het – saam met Frans Steyn – in die Bokke se vorige Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gespeel en vertel dat die 2007-Springbokspan met baie selfvertroue op die veld gedraf het.

Danie Rossouw se bobaas-duikslag op Mark Cueto sal nog lank in ondersteuners se geheue bly. Komende Saterdag kan vir nuwe Bok-herinneringe sorg: mits die voorspelers oorheers en die span koelkop in druksituasies bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genieve ·

Ons kan tog nie n ROOI kaart bekostig nie asb bokke luister na raad wat deurgegee word en strekte vir saterdag speel die game asb.

dries ·

Ja hoor… ons speel teen Engeland en behoort die game met 7 punte te vat.

Swartwolf ·

Dankie Os stem saam maar as hulle jou aanbevelings gestand gaan doen moet Willie en nr 6 nie speel nie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.