Moenie te gou die wa voor die perde span nie

Damian Willemse – hokaai vir eers met die lof. (Foto: Twitter @DamianGaza10)

Wanneer die Bulls Saterdag op Loftus Versfeld die Stormers in die Superrugby-reeks aandurf, word ʼn debat hervat wat al langer as 50 jaar woed.

In die Kaap word die deugde van die jong en talentvolle losskakel Damian Willemse (19) uit volle bors besing. Hy word reeds as die Kaap se (soveelste) wonderkind beskou.

Maar is dieselfde nie van onder meer die losskakels Handré Pollard, Pat Lambie, Earl Rose, Elton Jantjies en Jean-Luc du Plessis gesê nie?

Daar word reeds van Willemse as die volgende Springboklosskakel gepraat, maar het hulle so gou van Pollard vergeet?

Willemse het baie talent. Hy kan systap en aftrap, hy is nie bang om die voordeellyn aan te val en te verdedig nie, maar is dit nie hoe ʼn jong Pollard ook gespeel het nie? Eers in 2012 vir die SA Skolespan, toe drie jaar lank vir die SA o.20-span, die Bulls en in 26 toetse vir die Springbokspan. Maar namate hy ryper geword het, die teenstanders planne begin beraam het om hom aan bande te lê en beserings hul tol begin eis het, het Pollard sy spel begin aanpas.

Willemse laat my baie aan die vlugvoetige Nieu-Seelander Damian McKenzie dink. Dis dié kant toe en daai kant toe, maar word McKenzie teen Beauden Barrett geweeg? Nee!

In Ierland word baie oor die jong Joey Carbery gesels. Maar word hy teen Johnny Sexton geweeg? Nee!

Is die Engelse losskakel Danny Cipriani ooit bo Jonny Wilkinson verkies? Nee!

Pollard is die man in die Springboksaal en hoewel daar niks verkeerd is om na sy adjudant te kyk nie, moet die wa nie te gou voor die perde gespan word nie.

Dit het my laat dink aan jare gelede se debat oor die vlugvoetige Jannie Barnard, wat eers teen Keith Oxlee en later teen Piet Visagie geweeg is.

Barnard het Oxlee in die skaduwee van dié se loopbaan in 1965 vervang, maar hy het in net vyf toetse gespeel, want die Springbokkeurders het in 1967, 1968, 1969 en in 1970 die meer bestendige Visagie bo Barnard, wie se bynaam “Twinkle Toes” was, verkies.

Hoeveel keer moes Naas Botha homself nie bewys het nie? Onder andere teen De Wet Ras, Henry Honiball, Errol Tobias  en Schalk Naude, maar Botha het elke keer bo uitgekom.

Nou is dit Willemse teen Pollard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiewiet ·

Ek dink jy het vergeet van Jantjies hy is in die saal. Hy moet eers gelig word voor Pollard kan oorvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.