Moenie veel lees in naweek se Curriebekerstyde

Elke sege is belangrik, maar daar moenie te veel in die naweek se Curriebeker stryde gelees word nie.

Al die spanne is nog nie op volle sterkte nie.

Griekwas moet ʼn goeie kans hê om die Goue Leeus se naasbeste span op Ellispark te klop, met die bond se topspelers wat later die middag vir die Lions in die halfeindstryd van die Supperrugbyreeks uitdraf.

Op sy beste is die span uit Kimberley leeutemmer-materiaal, maar hy is nogal dikwels geneig om teleur te stel wanneer hoë verwagtinge aan hom gestel word. Hy kry egter Saterdag ʼn kans wat dit nie sommer weer sal voordoen nie.

Die Pumas het dieselfde kans verlede week aangegryp om die Leeus onder te sit, maar sit Saterdag op Kingspark in die ongemaklike posisie dat hy so te sê met die Sharks se beste span te doen kry, wat boonop erg gegrief is oor sy omstrede uitskakeling uit die Superrugbyreeks.

Al wat dalk net-net in die besoekers se guns kan tel, is dat daar ná die intensiteit van die Superreeks ʼn slapte by die voosgespeelde Sharks kan intree.

Hoewel die Westelike Provinsie ʼn paar van sy Superrugbyspelers ʼn blaaskans gee, behoort hy op grond van die twee spanne se vertoning in die Superreeks die gunsteling te wees om in Bloemfontein met die verdedigende Curriebekerkampioen, die Cheetahs, af te reken.

Sy (die kampioen se) groot sege teen die Sharks se naasbeste span in die eerste Curriebekerwedstryd vanjaar, kan maar wat Sondag betref, uit die oog verloor word.

Die afskoptye –

Saterdag

12:00 Goue Leeus teen Griekwas op Ellispark, Johannesburg

17:00 Sharks teen Pumas, Kingspark, Durban

Sondag

14:30 Cheetahs teen WP, Vrystaatstadion, Bloemfontein

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kosie ·

Vrystaat is beslis die gunsteling in hul tuiswedstryd teen WP en is op volle sterkte. Die WP rus ‘n hele klomp spelers. Ek sal verbaas wees as Vrystaat nie hierdie een wen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.