Moet maar nie te veel verrassings verwag nie

Rassie Erasmus sal ná Saterdag se halfeindstryde in die Curriebeker-reeks sy span moet agtermekaar hê vir die jaareindtoer na Brittanje en Frankryk, met die wedstryd teen Engeland wat oor presies twee weke afskop.

Hy kondig Sondag ʼn oefengroep aan, sonder oorsese spelers en spelers in aanstaande Saterdag se Curriebeker-eindstryd, wat Sondagmiddag op Stellenbosch saamtrek.

Die Springbokspan sal aanstaande Saterdag, ná die Curriebeker-eindstryd, bekend gemaak word en in twee groepe na Londen reis ‒ die tweede groep enkele ure ná die eindstryd met spelers wat nie in die eindstryd speel nie, uiteraard vroeër nadat hulle reeds in kennis gestel is van hul insluiting.

Moet maar nie te veel verrassings verwag nie, behalwe as daar ʼn paar baie goeie onderhandelings deur Erasmus is waarvan ʼn mens nie weet nie….

Erasmus se groot uitdaging is om die plaasvervangers te kies vir die vyf (straks ses as jy Franco Mostert byreken) spelers wat weens die oorsese klubs se reëls, en in gevalle hul houding, nie vir in gevalle al vier toetse teen Engeland, Frankryk, Skotland en Wallis beskikbaar sal wees nie, en andere wat weer net nie teen Engeland sal kan speel nie.

Willie le Roux, Faf de Klerk (op die oog af), Vincent Koch, Francois Louw en Cheslin Kolbe is (op die oog af) nie beskikbaar nie. Dis onbekend wat Erasmus intussen met onderhandelinge reggekry het om oorsese spelers te mag gebruik ná die Engeland-wedstryd wat buite die toetsvenster val.

Benewens vervangings, kan daar dalk verassings kom soos Jan Serfontein wat dalk die ja-woord van Erasmus en sy klub kan kry.

Heelagter

Dit is moontlik Erasmus se grootste probleem en uitdaging, veral met Galant wat eers aanstaande jaar weer sal kan speel. Dit lyk of Le Roux uit al vier die toetse is.

Damian Willemse? Onervare.
Kolbe in die laaste drie toetse? Hy is te kort onder die hoë bal.

Frans Steyn? Daar is al deur die jare te veel gesukkel om hom op ʼn toetsveld te kry en Montpellier sal seker weer ʼn verskoning uitdink. En Pat Lambie se oogbank het in Januarie seergekry en toe het hy sy knieligamente in mei sodanig beskadig dat dit hom die hele jaar van die veld sal hou.

Is dit die Bok-groentjies Dillyn Leyds of Curwin Bosch se kans?

Albei is ook puik (veral teen-) aanvallende en vaardige spelers, maar op die swaarder velde en voor 82 000 toeskouers op veral Twickenham sal die gebrekkige ervaring lol.

Vleuel

Op vleuel is Makazole Mapimpi oënskynlik uit die wedloop. Hy het meer as ʼn maand laas gespeel ná hy vroeg in die eerste toets teen die All Blacks van die veld is.

S’bu Nkosi is egter weer reg en speel Saterdag teen die Goue Leeus waar die stryd met Aphiwe Dyanti vir groot opwinding kan sorg.

Skrumskakel

Op skrumskakel, sonder De Klerk en met Ross Cronjé wie se ervaring weens ʼn operasie ook verbeur word, sal die vertoning van Ivan van Zyl van die Bulls en sy plaasvervanger-spanmaat Embrose Papier as hy kans kry, Saterdag  teen die Sharks fyn dopgehou word.

Louis Schreuder, wat al ʼn proeseltjie toetsrugby gespeel het, sal vir die Sharks teen Nic Groom opgeweeg kan word.

Erasmus kan egter besluit om sy net wyer te span en ten minste vir die laaste drie toetse na die twee Bokke Cobus Reinach en Piet van Zyl te kyk.

Francois Hougaard speel tans van die beste rugby van sy loopbaan, maar het vroeër laat blyk hy is nie meer vir toetsrugby beskikbaar nie.

Dalk kan Hougaard omgepraat word. Sy twee, drie treetjies voordat hy uitgee, is klaarblyklik oorsee uitgestryk. Dit was sy vernaamste swakheid.

Vaskop

Op vaskop sukkel dit nie vreeslik nie. Koch sal beslis nie teen Engeland mag speel nie, maar moontlik wel daarna. Daar is ervare manne soos Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen, Thomas du Toit wie se vakmanskap aan die vaskopkant goed gevorder het, en die kragman Wilco Louw om aan Frans Malherbe steun te verskaf.

Haker

Al drie die huidige hakers is beskikbaar, maar daar is eintlik soos dinge nou staan nie ʼn werklike derde haker nie.

Schalk Brits is reeds 37, geen opsie vir die Wêreldbeker-toernooi nie en op die oog af net ʼn addisionele “voorspelerafrigter.”

Ja, hy moes baie, baie meer toetse gespeel het, maar daardie dae is nou verby.

Op haker is Bongi Mbonambi die ongetwyfelde tweede beste in die land. Akker van der Merwe se lewendige spel in die vaste los is miskien effe aan die los kant teen die groot pakke. Hy is egter ʼn veel beter legging as Chiliboy Rallepelle, 32, en Brits.

Slot

Daar is steeds twyfel of Mostert reeds op 1 November by Gloucester inval. Gebeur dit, is hy vir waarskynlik al vier toetse uit en die Bokke ʼn slot kort.

Skuif jy vir Pieter-Steph du Toit? Nee!

RG Snyman het nog elke keer indruk gemaak en hy sal sy man staan, met Du Toit daar as hy eenvoudig weens moontlike beserings móét slot speel.

Losvoorspelers

Die losvoorspelers vir die toetsspan kies hulself. Duane Vermeulen, wat terug van Japan behoort te wees, is jou agsteman, Du Toit op is nommer sewe en Siya Kolisi op ses.

Kolisi as tradisionele baljagter? Nee, dis nie sy sterkpunt nie, maar Vermeulen en Marx sal as tweemanskap dit heeltemal kan hanteer.

Maar kyk bietjie na die amptelike statistiek van Sanzaar oor die Rugbykampioenskap en Kolisi se vertonings in die ses toetse:

♦ Kolisi het in die afgelope Rugbykampioenskap, van ál die spelers in ál vier die deelnemende toetsspanne, die agste meeste teenstanders geklop en ook die meeste skoon breekslae gemaak (in albei gevalle die meeste deur ʼn Springbok).

♦ Hy is die enigste voorspeler onder die voorste tien spelers wat die bal die verste gedra het in die ses toetse, en saam met Du Toit en Pablo Matera van die Pumas die voorspeler wat die meeste aansluiting gevind het.

♦ Boonop was sy verdediging, ná dié van Du Toit en David Pocock, die derde beste met duikslae wat tot omkeerbesit vir sy span gelei het.

Dit laat nog plek vir die losvoorspelers Warren Whiteley, Francois Louw wat ná die Engeland-toets seker in die ander drie sal mag speel, en Marco van Staden.

Die Bulls-flank het tot dusver min speelkans gekry maar behoort op die effens stadiger velde ʼn groot sukses te wees wanneer daar op die grond gewoel moet word.

Jean-Luc (nommer sewe-flank) en Dan du Preez (agsteman) het eenvoudig ná hul beserings nie genoeg gespeel of indruk gemaak nie, en Kwagga Smit se posisie hoog op die lys van   verbroude duikslae in die Superrugby-reeks neutraliseer sy aanvallende spel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christiaan ·

daar sal `n verskil wees as hy piet van zyl kies vir die toer `n baie goeie scumskakel wat hulle sal veras . Dit is `n jammerte dat Cheslin Kolbe nie kan speel nie as ook willie le roux , Ek sal daarvan hou om Ruan Nell 7’s speler wat gekies is vir die springbokke te sien speel . hy wys baie karakter by die WP

Frans C ·

Snaaks genoeg verskyn Kwagga Smith se naam 9de op die lys van ‘tackles won’ nl 168,heelbo is Mostert met 234.SANZAR.
Fox Sports Lab sien dit anders.Daarvolgens het Smith 186 laagvatte uitgevoer en 48 gemis.
Mostert het daarvolgens 237 laagvatte uitgevoer en 44 gemis.

Die statistieke beteken niks want dit neem nie die aantal wedstryde wat gespeel is in ag nie en hoelank die speler op die veld was nie ook nie hoeveel van die laagvatte wat ‘gemis’ is deur die skeidregters bevind is as nie ‘vasgehou’ nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.