Monty, Teichmann onder beste uitvoerprodukte na Wallis

Suid-Afrika se Percy Montgomery Foto: Martin Bureau/AFP.

Met topspanne soos die Cardiff Blues, Newport en die Ospreys lok Wallis van die wêreld se voorste rugbyspelers.

Wales Online se Simon Thomas het sy 30 oorsese spelers gekies wat die grootste invloed op Walliese rugby gehad het. En verskeie Suid-Afrikaners tel onder die uitgelese groep.

  • Brok Harris (2014 tot 2021): Die 36-jarige oudleerling van Hoërskool Bastion het in Junie die laaste van sy 143 wedstryde vir die Dragons gespeel.

Die veelsydige voorryman (wat loskop of vaskop kan speel) het vóór sy Walliese avontuur meer as 100 wedstryde vir die Westelike Provinsie gespeel.

Die publikasie het Harris as ’n staatmaker beskryf en hom vir sy veelsydigheid geloof.

  • Pieter Muller (1999 tot 2004): Die voormalige Springbok-senter is ongetwyfeld een van die spelers wat vir die lekkerste driedrukvideo’s op YouTube sorg.

Pieter Muller en James Small. Dié twee Bokke het saam hul toetsbuiging gemaak. Foto: Verskaf.

Hy het destyds sy Bokdebuut in 1992 teen die All Blacks voor 72 000 toeskouers op Ellispark gemaak. Hoewel die Bokke met 27-24 verloor het, het die jong Muller sommer vroeg sy stempel afgedruk en het hy die tuisspan se tweede drie van die wedstryd gedruk.

“Daardie drie teen die All Blacks op Ellispark is beslis die gunstelingdrie van my loopbaan,” het hy aan Maroela Media gesê.

Thomas beskryf die Suid-Afrikaner as een van Cardiff se mees geliefde sterre; ’n “kolossale” speler in die middeveld en iemand wat ’n sleutelrol in jong spelers se ontwikkeling gehad het.

  • Percy Montgomery (2002 tot 2005): Monty se rugbyloopbaan het by Newport herleef. Sy uitstekende spelpeil in Wallis – nadat hy vir ses maande geskors is omdat hy ’n assistent-skeidsregter gestamp het – het gesorg dat hy weer vir die Springbokke gekies word.

Hy het uiteindelik die Webb Ellis-trofee saam met John Smit en Kie. omhoog gehou en hy hou die rekord vir die meeste punte in ’n Springboktrui (893).

  • Gary Teichmann (links) saam met Pieter Rossouw. Foot: Eric Cabanis/AFP.

    Gary Teichmann (1999 tot 2001): “Hy het by Rodney Parade (Newport) as een van wêreldrugby se grootste name opgedaag en hy het ’n ongelooflike invloed op die span gehad,” het Thomas geskryf.

Die losvoorspeler was aan die stuur van sake toe die Springbokke in 17 agtereenvolgende toetse onoorwonne was en hy het sy Walliese span na hul eerste silwerware in 24 jaar gelei.

Soos wat Thomas sê: “’n Inspirerende figuur”.

  • Die volledige lys van 30 spelers:
  1. Xavier Rush
  2. Regan King
  3. Simon Easterby
  4. Gary Teichmann
  5. Filo Tiatia
  6. Ben Blair
  7. Marty Holah
  8. Percy Montgomery
  9. Tommy Bowe
  10. Jerry Collins
  11. Nick Williams
  12. Rod Snow
  13. Casey Laulala
  14. Tau Filise
  15. Salesi Finau
  16. Paul Tito
  17. Dan Baugh
  18. Justin Marshall
  19. Pieter Muller
  20. Rey Lee Lo
  21. Gareth Rees
  22. Maama Molitika
  23. Tadgh Beirne
  24. David Lyons
  25. Simon Raiwalui
  26. John Tait
  27. Kahn Fotauli’i
  28. Jonah Lomu
  29. Brok Harris
  30. Dmitri Arhip

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.