Môre, tien jaar gelede

Is dit verbeelding, of hou die ouer Springbok sy kop ’n ietsie hoër?

Watter Springbokspan was die beste in die geskiedenis?

Die span van 1951-’52, wat Skotland met 44-0 (toe ʼn drie nog drie punte getel het) vermorsel het, 30 van hul 31 wedstryde op toer gewen het, insluitende al vyf toetse?

Wat van Philip Nel se 1937-Bokke wat die 27 van hul 29 toerwedstryde in Australië en Nieu-Seeland gewen het, insluitende vier van die vyf toetse?

Dink aan Billy Millar se span in 1912-’13 wat 24 van sy 27 toerwedstryde gewen het, insluitende al vyf toetse.

Daar was die Bokke wat die All Blacks (wat toe as wêreldkampioen beskou is) in 1970 se reeks met 3-1 geklop het, en onoorwonne op sy toer in 1971 deur Australië was.

Onthou Francois Pienaar se Wêreldbekerwenners van 1995.

Om nie te praat van Nick Mallett se groep van 1997-’98 wat 17 opeenvolgende toetsoorwinnings behaal het nie.

Of was dit dalk Jake White se span wat in 2007 weer die Wêreldbeker, dié keer in Parys, gewen het?

Vrydag, die 20ste Oktober, is dit die tiende herdenking van John Smit-hulle se sege van 15-6 oor Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd van 2007. Sommige kenners meen die Bokke was effens gelukkig, omdat die All Blacks met 20-18 deur Frankryk in die kwarteindronde geklop is, en die Wallabies met 12-10 deur Engeland uitgeskakel is.

Engeland het voortgegaan en Frankryk met 20-18 in die halfeindstryd geklop, maar is in die eindstryd met 15-6 deur die Bokke getroef.

Die Bokke het Fidji in die kwarteindronde (37-20) geklop, en Argentinië in die halfeind met 37-13 verslaan en toe met Engeland klaargespeel.

Hulle het dus verdien om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, al sê wie ook al wat.

Hipoteties gesproke, hoeveel van 2007 se span sou in 2017 ook vir die Bokke gespeel het? Straks die hele agterlyn (Percy Montgomery, JP Pietersen, Jaque Fourie, Francois Steyn – onthou, Jean de Villiers was beseer – Bryan Habana, Butch James en Fourie du Preez.)

Voorlangs sou Juan Smith en Schalk Burger (flanke), Bakkies Botha en Victor Matfield (slotte ) en Os du Randt (loskop) dit ook gemaak het.

Dus laat dit net drie, of hoogstens vier spelers van 2017 se groep oor: Malcolm Marx (onthou gerus dat Bismarck du Plessis op die Bokke se bank was), Duane Vermeulen en Warren Whiteley (as hulle nie beseer was nie) en Eben Etzebeth. Dalk sou een van die beseerde vaskopstutte Frans Malherbe, Julian Redelinghuys of Coenie Oosthuizen bo CJ van der Linde “gekies” word.

Dit wys net weer hoeveel Springbokrugby agteruitgegaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Callie ·

2007. Beste skrumskakel in wereld Fourie du Preez, Habana, wereldklas, Matfield beste no 4 wat ooit rugby gespeel het, Bakkies, robuust en saam met Matfield beste slotpaar in wereldrugby, Juan Smith, wereldklas , Frans Steyn beter as enige een wat ons nou het. Komaan, ons rugby nou is van die swakste wat dit ooit was

Laurens ·

Onthou die 2007 bokke het ook reeks teen britse leeus gewen en in 2009 al 3 games vs all blacks gewen.

Leon ·

Die 1986 bokke teen kavaliers, du plessis ,botha,gerber reinach

Beer ·

1937 span wat reeds toe die eerste span was wat die All Blacks in NZ in ‘n toetsreeks kon klop. Ook 1951/2 span wat tot vandag beskou word as “the best rugby team to leave the shores of the UK”. En dan natuurlik die twee wereldbeker wenner spanne. Ongelukkig is daai kwaliteit spelers en afrigters nie meer beskikbaar nie. Vandag se Bokke doen ‘n “victory lap” om Nuweland as hul met 1 punt teen die All Blacks op tuisbodem verloor. Verbeel jou Oubaas Markotter of Kitch sou dit tog toelaat….. nog minder sou Francois Piemaar of John Smit.

Corne Smith ·

Bokke van die vroeë 80’s. Wie kan stry met ‘n agterlyn van Naas Botha, Danie Gerber, Michael Du Plessis, Ray Mordt, Carl Du Plessis, Johan Heunis ens. Ongelukkig gespeel onder isolasie, maar hulle sou die wêreld beker gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.