Morgan lei Wallis in oefenwedstryd teen Bokke

Jac Morgan (Foto: Paul Ellis/AFP)

Dit lyk al hoe meer waarskynlik dat Jac Morgan nou Wallis by die Wêreldbeker-rugbytoernooi sal lei nadat dié flank as kaptein aangewys is vir ʼn opwarmwedstryd teen die Springbokke Saterdag in Cardiff in Wallis.

Dit sal die tweede keer in drie wedstryde wees dat Morgan die leisels as kaptein neem.

Dewi Lake het Wallis gelei tydens verlede week se nederlaag van 19-17 teen Engeland op Twickenham, maar dié haker het in die eerste helfte met ʼn kniebesering die veld verlaat.

Wallis se afrigter, Warren Gatland, het die vleuel Alex Cuthbert en die senter Johnny Williams teruggeroep vir hul eerste verskyning van die opwarmingsveldtog.

Williams word gesteun deur Mason Grady, terwyl skrumskakel Kieran Hardy en haker Elliot Dee ook hul kant sal bring.

Taine Basham is op die bank in die wedstryd teen die Springbokke omdat hy nog nie volkome herstel het ná ʼn kopbeseringsondersoek – ná ʼn skouergedrewe duikslag deur Engeland se kaptein, Owen Farrell, verlede naweek op Twickenham – nie.

Farrell is van die veld gestuur, maar in ʼn besluit wat opslae in rugbyunies wêreldwyd veroorsaak het, is sy rooi kaart Dinsdag deur ʼn dissiplinêre paneel herroep.

Die Walliese rugbyunie het gesê Basham “het geen bevestigde harsingskudding getoon nie ná die voltooiing van al drie fases van die bepalingsprotokol vir hoofbeserings (HIA)”.

Gatland het 13 veranderinge in die span aangebring, met net die heelagter Liam Williams en die flank Dan Lydiate wat van die oorspronklike spelers oorbly.

Saterdag se wedstryd sal die laaste kans wees vir spelers om die Nieu-Seelander te beïndruk voordat hy Maandag Wallis se 33-tal vir die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk aanwys.

“Ons probeer ʼn bietjie diepte binne die span bou, en daar was ʼn wonderlike atmosfeer,” het Gatland gesê nadat hy sy span aangewys het om teen die Springbokke kragte te meet.

“In die eerste paar wedstryde was die fisieke spel wat ons gelewer en die manier waarop ons verdedig het werklik ʼn plesier.”

Gatland, wat Wallis na twee vierde plekke by die Wêreldbeker-toernooi gelei het in sy eerste tydperk as afrigter, sê daar is nog dinge waaraan die span moet werk in terme van akkuraatheid.

“Daar is baie geleer uit daardie tweede Engeland-wedstryd en hopelik pas ons dit in die praktyk toe teen Suid-Afrika. Daar is nog ʼn geleentheid vir hierdie groep van 23 spelers om hul hand op te steek voordat ons die Wêreldbeker-groep kies.”

Die Springbokke het ʼn sterk span aangewys, met die Wêreldbeker-wenner Siya Kolisi wat van ʼn besering teruggekeer het.

“Ons verwag selfvertroue en fisiekheid van Suid-Afrika. Hulle maak nie baie foute nie,” sê Gatland.  “Ons moet net seker maak ons speel wel 80 minute en speel akkuraat vir daardie 80 minute.”

Wallis se span bestaan uit die volgende spelers:

Liam Williams, Alex Cuthbert, Mason Grady, Johnny Williams, Rio Dyer, Dan Biggar, Kieran Hardy, Aaron Wainwright, Jac Morgan (kaptein), Dan Lydiate, Will Rowlands, Ben Carter, Keiron Assiratti, Elliot Dee, Corey Domachowski.

Plaasvervangers:

Sam Parry, Nicky Smith, Henry Thomas, Teddy Williams, Taine Basham, Tomos Williams, Max Llewellyn, Cai Evans.

Afrigter: Warren Gatland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Klomp nuwe name in hul span. ‘n Nuwe era. Ons klou nog vas aan 4-jaar terug se witbaarde en spelers soos Libbok sou nie kans gekry het as dit nie vir beserings was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.