Morné sal altyd skop hê

Morné Steyn laat waai met die regtervoet. (Foto: GB Jordaan.)

Morné Steyn groet my op die naam toe ek hom vroeg Dinsdagoggend bel.

Sy stem is vrolik en belangstellend. Hy klink soos een van ons en nie soos ʼn rugbygenie wat meer as 700 punte in 68 toetse vir die Springbokke aangeteken het nie.

Ja jammer, dit klink dalk of ek ietwat van ʼn vooropgestelde idee oor die man gehad het, maar goeiste: Wanneer jy met ʼn speler praat wat sommer twee keer op ʼn streep die harte van die Britse en Ierse Leeus met ʼn paar goedberekende stelskoppe gebreek het, sou almal sekerlik oukei gewees het met ʼn tikkie arrogansie, nie waar nie?

Maar Steyn is hoegenaamd nie só nie. Soos wat Vlok Cilliers tereg in ʼn vorige onderhoud genoem het – die rugbyster wat jy vandag sien is steeds dieselfde jong speler wat destyds ná matriek by Loftus Versfeld se B-veld ingery het.

Hy het nie verander nie.

“Dit is lekker om só ʼn kompliment te kry. As jy dinge te maklik kry sonder om baie hard daarvoor te werk, kan roem jou beïnvloed. Gelukkig het ek ʼn harde pad gestap om te kom waar ek is, terwyl ek terselfdertyd weet dat ek niks uit my eie doen nie – dit is talente van Bo,” het Steyn gesê.

Nietemin spog die 38-jarige losskakel – wat op 10 Junie vir oulaas vir die Blou Bulle uitgedraf het – met ʼn indrukwekkende rugbygetuigskrif.

Steyn en Vlok Cilliers vier die Bulls se Superrugby-sukses. (Foto: Verskaf)

Benewens sy heldedade teen die Britse en Ierse Leeus, het hy ʼn rits Superrugby-titels saam met die Pretorianers gewen, terwyl hy ook in die kleure van Stade Français ʼn bietjie Top 14-sukses gesmaak het.

Nodeloos om te sê, hy is ʼn puntemasjien.

Daar is die 31 punte in ʼn enkele toets teen die All Blacks en die spul rekords in die Groen-en-Goud. Hy is die vinnigste speler om 100, 200, 300, 400, 500, 600 en 700 punte vir die Springbokke aan te teken.

Maroela Media-lesers slaan inderdaad die spyker op die kop wanneer hulle met die gebruiklike “Morras skop hom oor want Morras mis nie”-kommentaar onder een van die berigte lewer.

Tog – soos wat dit telkens in die sportwêreld gaan – was daar kere dat dinge nie heeltemal volgens plan verloop het nie.

“In die een wedstryd jaag jy al jou skoppe oor die dwarslat, net om in die daaropvolgende kragmeting te sukkel. Daar sal altyd ups and downs wees en dit is hoe jy opstaan wat werklik saak maak.”

Sy wenskop tydens die Britse en Ierse Leeus-toer van 2009. (Foto: Alexander Joe/AFP.)

Volgens Steyn moet jy as’t ware die teleurstelling van ʼn verbroude stelskop so gou as moontlik probeer afskud; konsentreer eerder daarop om dinge reg te maak wanneer jy weer agter die skopkelkie aantree.

Harde werk kan darem nie die enigste bestanddeel wees vir ʼn suksesvolle doelskop in die doodsnikkie van ʼn wedstryd nie, kan dit? ʼn Man moet seker ook ys in sy are hê?

“Ek is in die geheel darem ʼn rustige ou en my aandag word nie sommer deur eksterne faktore afgetrek nie. Maar oudergewoonte het ek vertroue in my voorbereiding gehad – ek het geweet dat ek die nodige ure op die oefenveld ingesit het.”

In sy laaste wedstryd teen die Cheetahs het hy met sy eerste skop skeef gekorrel.

“Dan was daardie poging net voor rustyd ook hopeloos te ver, maar ek wou ʼn kans waag en die wedstryd geniet. Dit was ʼn baie lekker atmosfeer.”

Goeie nuus is dat hy nog aan ’n paar hoofstukke van sy rugbyverhaal sal skryf.

“Ek gaan ʼn bietjie help by die Bulle se junior spanne, terwyl ek ook by ʼn paar skoolspanne betrokke is. Tussendeur sal ek ook my eie skopkliniek behartig. Dus gaan ek darem nog in en uit by Loftus se hekke ry!”

Hy is terselfdertyd ook betrokke by liefdadigheidsprojekte soos Helpende Hand en die VlokSkop-stigting se Tekkies-en-Toks-projek.

“Dit is altyd goed om terug te gee. Daar is baie wat nie bevoorreg genoeg is om ʼn paar tekkies of toks te besit nie. Dit was nog altyd vir my lekker om ander te help.”

Morné Steyn was naweek in en naweek uit deel van Suid-Afrikaanse huishoudings. Ouma het oor sy prestasies gespog en Jannie het gedroom om eendag soos hy te skop.

Hy was, en is, een van ons.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Ek sal hom nou nie genie noem nie maar heel bestendige en goeie speler.

Kobus ·

Stem maar hy het sy werk gedoen wat van hom verwag was. Nie tantrums ens gegooi nie. Soos jy sê, bestendig

kragaap ·

Morras skop hom oor want Morras mis nie. Was ‘n staatmaker. Vra Britse en Ierse Leeus…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.