Mosselbaaise rugbyspeler ernstig beseer in Spanje

Lohan Potgieter op die aanval. Foto: Facebook.

Lohan Potgieter was vanjaar ’n driedrukmasjien vir CAR Cáceres in Spanje. In net 12 wedstryde was hy die reeks se voorste driedrukker met 15 drieë en was hy op die kruin van die golf.

Maar op 24 Februarie in ’n wedstryd teen Jaén het alles in ’n oogwink verander.

“Ek het in die 79ste minuut van dié wedstryd ’n drie gedruk. Een van Jaén se spelers het ná ek gedruk het, met sy knieg op my nek gespring. Ek het erge harsingskudding opgedoen en een van my nekwerwels is gekraak, maar ek is besig om vordering te toon,” het hy Maandagoggend aan Maroela Media gesê.

Die 23-jarige losvoorspeler het vir Hoërskool Punt in Mosselbaai se eerste span uitgedraf, was die onderkaptein van die SWD Arende se Akademiespan in 2014 en het dieselfde unie se o. 20’s aangevoer. Dan het hy ook vir die Cheetahs se o. 19’s gespeel en was hy deel van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se Young Guns-groep in die Varsitybeker.

Hy was ’n lid van die Arende se span vir die SuperSport‑uitdaagreeks, toe hy ’n geleentheid gekry het om sy loopbaan in Spanje voort te sit.

“Ek geniet die rugby baie hier in Spanje. Dit is ’n ongelooflike voorreg om teen spelers van oral in die wêreld te speel.”

Ten spyte van sy terugslag is hy baie optimisties en die rehabilitasiewerk vorder goed. Foto: Facebook.

Ten spyte van die erge terugslag, is sy optimisme duidelik sigbaar.

“Ek vertrou die Here met my hele hart en ek weet dat sy wil sal geskied. Dít is my motivering. Ek weet dat Hy ’n plan vir my het.”

Potgieter is in ’n Spaanse hospitaal opgeneem, maar die ondersteuning van familie en vriende dien as ʼn stewige steunpilaar.

“My meisie, vriende en die klub se ondersteuning is ongelooflik, terwyl my familie se gebede my daagliks vanuit Suid-Afrika gedra het,” sê hy.

“Ek is tans besig met rehabilitasie- en fisioterapie. Ek glo en vertrou dat die Here my reeds aangeraak het en dat ek volgende seisoen weer op die veld sal wees as die rehabilitasie en herstelproses goed verloop.”

Danksy talent, geloof, optimisme en passie is Lohan Potgieter se rugbystorie nog nie verby nie.

  • Potgieter behoort die naweek huis toe te vlieg indien die Spaanse medici dit toelaat. Hy het op die dag van die onderhoud gehoor hy behoort weer binne vier maande te kan oefen.

Nog ’n voormalige SWD-speler, Ollie Terblanche, het destyds sy nekwerwels in ’n oefenwedstryd teen Evergreens gebreek. Hoewel hy gebruik van sy arms en bene verloor het, het hy op sy troudag langs sy vrou voor die kansel gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack Russl ·

Daardie speler moet sommer permanent uit rugby geskors word. Ons het nie sulke spelers nodig in die sport nie

Jannie ·

Lohan, ons bid jou SPOEDIGE en VOLKOME herstel toe, in die kosbare Naam van YASHUA, ons Verlosser en Saligmaker!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.