Mostert by Gloucester en nie vir toets oorweeg nie

Franco Mostert – speel nie teen Engeland nie (Foto: GB Jordaan)

In hierdie dae van te veel rugby, baie toetse en die kontraktering van spelers wat wen of verloor vir spanne kan beteken, moet afrigters maar hul skouers optrek en die terugslae sover moontlik probeer beperk.

Ook moet hulle uit hierdie negatiewe sameloop die positiewe aspekte soos spanbou soek omdat dit gaan oor wen en nie verskonings nie.

En dít is presies waar die Springbokke, Engeland, die Wallabies en Frankryk hulle op die vooraand van die reeks jaareindwedstryde bevind.

♦ Vir die Bokke is daar die nuus dat hul slot Franco Mostert, wat saam met die Springbokgroep vertrek het en wie se naam oorsee as deel van die toergroep aangegee word, beslis nie Saterdag teen Engeland sal speel nie.

Hy het reeds by Gloucester aangemeld.

By die Lions word hy steeds as ʼn lid van dié franchise beskou, maar volgens die Springbokke se afrigter, Rassie Erasmus, het hulle besluit om hom nie te gebruik nie om Mostert kans te gee om by Gloucester “ingeburger’ te raak.

Erasmus het by ʼn mediakonferensie bevestig dat Mostert “tegnies” miskien gekies kon word, maar dat hulle daarteen besluit het.

Dit is ook onseker of hy vir die volgende drie toetse oorweeg sal word.

Die Bokke sal beslis ook sonder Willie le Roux wees, wie se naam in die toergroep verskyn maar weens die toetsvenster wat eers vanaf 10 November geld, nie teen Engeland sal mag speel nie. Faf de Klerk se naam is glad nie op die Bokke se spelerslys nie en hy is dus waarskynlik glad nie vir die vier toetse beskikbaar nie.

♦ Engeland se slot Courtney Lawes sal waarskynlik ook nie Saterdag kan speel nie. Hy is Saterdag van die Engelse span se oefenkamp in Portugal terug VK toe nadat hy sy rug beseer het. Hy het positief op behandeling gereageer en kan glo vir Saterdag se toets oorweeg word.

Eddie Jones sal egter moet besluit of hy met Lawes gaan waag, want hy sal net aan een oefening, Donderdag wanneer die span aangekondig word, kan deelneem.

Sowat ʼn maand gelede is nog ʼn voorste slot van Engeland, Joe Launchbury, sodanig beseer dat hy uit Engeland se eerste twee toetse teen die Springbokke en die All Blacks is.

♦ Frankryk, wat aanstaande naweek teen die Springbokke en daarna teen Argentinië en Fidji speel, sal dit sonder hul voorste skrumskakel Morgan Parra moet doen. Hy het sy gewrig beseer.

Sébastien Bézy vervang hom. Hy het nog net in sewe toetse gespeel. Die Franse het ook vroeër die veelsydige voorspeler Bernard le Roux en die senter Wesley Fofana met beserings uit hul groep verloor.

♦ Die Wallabies, wat juis agterlangs sukkel, se veelsydige Reece Hodge is weens ʼn enkelbesering nie in die groep wat Michael Cheika vir die toetse teen Wallis, Italië en Engeland gekies het nie. Die 18-jarige Jordan Petaia is in Hodge se plek in die groep gekies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nico k ·

Daar is beslis te veel rugby en dit is nie goed vir die spelers en die toeskouers raak ook moeg. Waarom is daar dan besluit om op 3 Nov toetswedstryde te hou as daar amptelik besluit is dat die naweek nie vir toetsrugby aangewys is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.