Mostert meen Bokke sal verbeter

Franco Mostert. Foto: Twitter.

Franco Mostert, die Springbokke se hardebaard-losvoorspeler, meen dat die Suid-Afrikaners sterker in die volgende toets teen die Wallabies sal vertoon.

Die Suid-Afrikaners het hul soveelste toets weg van die huis teen die Wallabies verloor toe hulle met 28 – 26 in Queensland vasgeval het.

Volgens Mostert het baie spelers nie die verrassende uitslag verwag nie, maar op ’n gegewe dag kan ’n rugbybal óf reg óf verkeerd vir ’n span bons.

“Australië verdien lof vir die wyse waarop hulle gespeel het; hulle was hongerder as ons. Maar ons is steeds positief en vol selfvertroue; ons werk hard en hopelik kan ons beter in die volgende wedstryd speel. Ons was al vantevore in ’n soortgelyke situasie; ons weet wat om nou te doen” het Mostert gesê.

Danksy Bongi Mbonambi en Malcolm Marx het die Bokke drie drieë teenoor die Aussies se een gedruk, tog het die Suid-Afrikaners se dissipline hulle in die steek gelaat.

Quade Cooper het te danke aan agt suksesvolle stelskoppe 23 punte vir sy span aangeteken en hy het ook ná die 80ste minuut die wedstryd vir die Wallabies met nóg ’n strafskop beklink.

Die nederlaag beteken egter nie dat die Suid-Afrikaners aan hul wedstrydbenadering sal karring nie.

“Wat ons doen het in die verlede vir ons gewerk. Daar is egter ’n paar goed waaraan ons beslis sal moet aandag skenk, waaronder die manier waarop ons dinge op die veld uitvoer.”

Mostert kan egter trots op sy onlangse vertonings wees – hy het sonder veel moeite die skuif van slot na flank gemaak.

“Die spelers is bereid om in enige posisie te speel, solank hulle net in die span is en deel van die toergroep kan wees. Ja, dit is ’n moeilike taak om iemand soos Pieter-Steph du Toit se skoene vol te staan, maar ek kan net my bes doen en probeer om almal trots te maak.”

Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, het ook sy ontevredenheid uitgespreek met die talle verbroude kanse, waaronder twee moontlike drieë en ’n paar onsuksesvolle doelskoppe en strafskoppe.

“Dit was nie ʼn afgeronde vertoning nie,” het hy gesê. “Ons sal na die wedstryd kyk, en ons sal daardie dinge moet regmaak en ons dissipline verbeter.”

Dit is tyd dat ’n Springbokspan die Wallabies in Australië ore aansit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael ·

Dis redelik duidelik dat Erasmus die werklike afrigter is. Nienaber was nog nooit afrigter van ‘n span en nou is hy springbokafrigter alles danksy sy boesemvriend Erasmus. Erasmus het sy ander boesemvriend Brits ook nader getrek om darem in wereldbeker ook te speel. Nie net ANC wat kaders ontplooi nie, almal doen dit

Afriperd ·

Dryfmaal bewegings!!!! Ek sal nie betaal om na dit te kyk nie! Dan is ons ander plan om te skop en hoop.
Hardloop met die bal ons het die agterlyn vir dit.

Boer ·

Die mense van SA is erg negatief oor die bokke. Rassie en Jacques het die span by AC oorgeneem en kampioene gemaak. Die bokke is nou op so ‘n plek dat almal in die wêreld hulle net wil wen om iets te kan bewys.
Onthou dat die bokke twee weke isolasie was en dat hulle min geoefen het, dit was ook so teen die leeus. Die twee wedstryde game teen die leeus het die bokke hulle van die veld af gespeel. Nou Saterdag gaan hulle die Ausies van die veld af speel.
Pollard gaan skerper wees, Am gaan sy ou self wees en die hele span gaan 110% beter wees. Hou dop!!!

gatgogga ·

Ek stem saam Boer. Boonop het die Bokke duidelik gewys dat, as daar maar net ‘n bietjie meer geluk aan ons kant was, dan het ons eintlik Saterdag gewen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.