MRU-liga: Van der Merwe sit tier in Sasol-tenk

Sasol van Secunda het Saterdag ʼn paar groot oorwinnings in die Mpumalanga-rugbyunie (MRU) se ligas behaal.

Mariëtte Kruger, die sekretaresse en skakelbeampte van Sasol Hydra-Arc, berig dat die eerste span met 69-0 (rustyd 14-6) en die tweede met 30-5 (rustyd 11-0) teen Nelspruit gewen het. Sasol III het ʼn rustydagterstand van 12-14 skouspelagtig uitgewis om Standerton II met 71-28 te oorweldig.

Sasol het elke keer in die tweede helfte meedoënloos toegeslaan en die indruk gewek dat hy aansienlik fikser as sy teenstanders was.

Die eerste span se elf drieë teen Nelspruit is deur Pieter Streicher (heelagter), Jannie van der Merwe (regtervleuel, twee), (Christiaan Wessels (binnesenter, twee), Berty Visser (linkervleuel, twee), Erik de Vos (flank, twee), Jean Olivier en Deon Greeff (albei plaasvervangers) gedruk.

Van der Merwe het die tier in Sasol se tenk gesit deur 24 van die span se punte met sy tweekuns en sewe doelskoppe te behaal, en is as die agterspeler van die wedstryd aangewys.

Izan Green (agsteman) was die beste voorspeler.

Vir die tweede span het Werno Smit (flank), Werner le Roux, Karel-Pieter de Jager en Shaun Jacobs (almal van die bank af) die drieë gedruk. William Pretorius (losskakel) het een verdoel en met twee strafdoele geslaag, en Gert Pieterse (plaasvervanger) het een verdoel.

Edmund Soule (binnesenter) en André Schwab (slot) was die spelers van die wedstryd.

Die agterspeler van die wedstryd in die derdespanbotsing teen Standerton, Gert Pieterse (losskakel), het 31 punte met drie drieë en agt doelskoppe aangeteken. Die doelskop wat hy as plaasvervanger vir die tweede span behaal het, het sy totaal vir die dag op 33 te staan gebring.

Werno Smit (plaasvervanger) het `n driekuns behaal om die toekenning as voorspeler van die wedstryd te verdien, iets wat nie juis met ʼn bankspeler gebeur nie.

Dirk Lowies (buitesenter), Dumie Mashaba (slot, twee), Chris Grobler (slot) en Michael Bagopi (plaasvervanger) het Sasol III se ander drieë gedruk.

Kruger sê Sasol het vroeg begin voorberei en beskik oor ʼn goeie mengesel van verlede jaar se staatmakers en ʼn hele klomp talentvolle nuwe spelers, veral ook heelwat jong spelers wat gierig is om van die ou manne te leer.

“Die klub se spelergerigte gesinskultuur bied die nuwe spelers ʼn veilige tuiste om goed in te burger, en volkome tuis en deel van die gesin te voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.