Munster-drieë sal ook toegejuig word

Munster-ondersteuners vier hul span se halfeindstryd-oorwinning teen Leinster. (Foto: Twitter/Munster)

Daar gaan nie net ʼn see van Stormers-ondersteuners by die naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd in Kaapstad wees nie.

ʼn Munster-drie sal beslis ook luidkeels toegejuig word.

Die Ierse rugbyklub het onder meer ʼn hele vlug-en-verblyfpakket vir sy ondersteuners beskikbaar gestel en volgens Martin Anayi kan tot 5 000 Munster-ondersteuners die wedstryd op die DHL-stadion bywoon.

Die VRK se uitvoerende hoof het in ʼn podsending gesê dat Munster-ondersteuners onmiddellik die kaartjies opgeraap het wat aan hulle beskikbaar gestel is.

Amptelike kaartjies vir die wedstryd is verlede Donderdag binne drie uur uitverkoop en volgens Michael de Vries, die Stormers se mediabestuurder, kan 55 000 toeskouers die pawiljoensitplekke van die Groenpuntse stadion volsit.

ʼn Meer akkurate bywoningsyfer sal egter eers op die dag van die wedstryd beskikbaar wees.

Graham Rowntree het ook vroeër gewaarsku dat die Iere se fut nog lank nie uit is nie.

Die Munster-afrigter is glad nie bekommerd dat sy span se Leinster-triomf die spelers se groot vertoning van die toernooi was nie.

“Pete O’Mahony (kaptein) het uitstekend in die kleedkamer gepraat toe hy gesê het dat die Leinster-kragmeting nie ons eindstryd was nie. Ons sal dus met baie selfvertroue na Kaapstad reis. Ons is hier om wedstryde te wen en die eindstryd sal geen uitsondering wees nie,” het hy beloof.

Munster het vroeër ook ʼn slag teen die Stormers in die groepfase geslaan toe hy die Kapenaars met 26–24 geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chantel ·

Gaan ‘n titaniese stryd wees wat verseker beloof vir goeie rugby. Ek sal vasgenael sit voor my TV.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.