Munster en kie binnekort in SA

Plaaslike rugbyspanne sal binnekort weer teen oorsese besoekers kan kragte meet. Foto: Twitter.

Die organiseerders van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) het bevestig dat Munster, Cardiff, Zebre Parma en Scarlets weer na Suid-Afrika sal moet reis om plaaslike spanne die stryd aan te sê.

Dit kom nadat die aanvanklike wedstryde in November weens die Omikron-variant uitgestel is.

Die kragmetings sal nou in Maart beslis word met die Bulls, Stormers, Sharks en Lions wat almal teen die oorsese spanne sal kragte meet.

Martin Anayi, die VRK se uitvoerende hoof, het alle rolspelers vir hul bydrae bedank om die wedstryde te herskeduleer.

“Hierdie wedstryde is ongelooflik belangrik vir Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers wat gretig op die besoek van oorsese VRK-spanne wag,” het Anayi gesê.

Hoewel die wêreldwye Covid-19-pandemie gereeld sorg dat wedstrydbepalings by die stadionvenster uitwaai, glo Anayi dat organiseerders nou beter voorbereid is.

“Ná baie gesprekke glo ons dat die spelers vol vertroue is dat regte gebeurlikheidsplanne nou in plek is om enige moontlike probleem te hanteer. Twaalf spanne sal deur die loop van die toernooi na Suid-Afrika reis en ons is seker daarvan dat hulle baie hartlik verwelkom sal word.”

  • Nuwe bepalings:

11 Maart: Sharks teen Scarlets om 19:10

12 Maart: Bulls teen Munster om 16:05

13 Maart: Lions teen Cardiff om 16:00; Stormers teen Zebre Parma (afskoptyd moet nog bevestig word)

18 Maart: Bulls teen Scarlets om 19:10

19 Maart: Lions teen Munster om 14:00; Sharks teen Zebre Parma om 18:30.

20 Maart: Stormers teen Cardiff om 14:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.