Munster gryp nog twee uit SA

Die Ierse provinsie Munster het Vrydag aangekondig dat hy kontrakte met twee Suid-Afrikaanse voorspelers gesluit het.

Chris Cloete, ʼn Superrugby-uitblinker van die Kings, het `n kontrak van drie jaar met die Iere gesluit; en Gerbrandt Grobler, ʼn gewese Stormers-slot het die afgelope seisoen vir die Franse Top14-klub Racing 92 geskitter.

Cloete (26) is eintlik ʼn Pumas-flank wat vir die Superrugbyseisoen by die Kings gaan uithelp het, en só goed gevaar het dat hy vir die Suid-Afrikaanse A-span teen die Franse Barbarians nader getrek is.

Hy het twee drieë in die span se oorwinning van 48-28 in Soweto gedruk, en sal na afloop van sy Curriebeker-verpligtinge by Munster aansluit.

Grobler (25) het vanjaar vyf drieë vir Racing gedruk.

Die Springbok Rassie Erasmus, wat pas die pos as die SA Rugbyunie (Saru) se rugbydirekteur aanvaar het, het Munster vanjaar met groot sukses afgerig.

Die Springbok-senter Jaco Taute was een van die span se uitblinkers.

Munster speel in die Europese Pro12-liga, waarheen die Cheetahs en die Kings dalk ook nou op pad heen is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.