Munster plant uitklophou teen Sharks

(Foto: Munster Rugby Supporters Club/Facebook)

Dit was nog ʼn hou teen die kennebak, maar Munster se oorwinning van 42-17 oor die Sharks in die Verenigde Rugbykampioenskap was Saterdagaand in Limerick die laaste stukkie van die legkaart om Suid-Afrikaanse rugby te oortuig dat alles nie wel is nie.

Die eindtelling was dalk nie ʼn getroue weergawe nie, want Munster se Simon Zebo en Chris Cloete het twee drieë in die doodsnikke gedruk.

Tog was Munster, wat rustyd reeds met 20-3 voor was, die hele tyd in beheer.

Net soos die Stormers en Bulle wat vroeër Saterdagmiddag onderskeidelik met 22-18 deur Benetton en 31-3 deur Leinster geklop is, is dieselfde boodskap ook duidelik aan die Sharks uitgespel.

Die spanne in die Noordelike Halfrond gaan heeltemal ander vereistes aan jou stel en tensy die Suid-Afrikaanse spanne so gou moontlik daarby aanpas deur beter te verdedig, takties beter te skop, beter besluite te neem en hul kanse te benut, wag daar nog meer slae.

Vergeet daarvan om eendimensioneel te speel en hoop om die toutjies te trek met ʼn pak wat oorheers.

Ook sal die spanne moet leer om so gou moontlik by die skeidsregters in die Noordelike Halfrond aan te pas.

In Saterdag se drie wedstryde kon Suid-Afrika se drie beste spanne slegs 38 punte aanteken en vier drieë druk. Hul Europese teenstanders het 95 punte aangeteken en 13 drieë gedruk.

En dit was in uiters gunstige weerstoestande.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt was RG Snyman, die Bokslot wat maande lank op die krukkelys was en in die tweede helfte van Munster se plaasvervangersbank af opgestuur is, baie goeie nuus.

Punte:

Munster 42 (20): Drieë: Simon Zebo (2), Craig Casey, Gavin Coombes (2), Chris Cloete. Doelskoppe: Joey Carberry (2), Ben Healy. Strafdoele: Carberry, Healy.

Sharks 17 (3): Drieë: Boeta Chamberlain, Yaw Penxe. Doelskoppe: Curwin Bosch. Strafdoel: Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.