Tuisveldvoordeel en skeidsregterbeslissings gaan weer ʼn baie groot rol in dié seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap speel.
Dit het die Sharks Saterdag in Limerick in Ierland opnuut besef toe hulle met 34-21 deur Munster, die verdedigende kampioen, geklop is.
Dis hoekom spanne gaan sukkel om oorsee te wen, want om in warm bedompige weer in Durban of Pretoria te oefen en dan in koue, winderige reënweer in Ierland, Skotland of Wallis te speel, gaan weer baie groot aanpassings verg.
Maar eweneens gaan die oorsese spanne ook op Loftus Versfeld, Ellispark, Kingspark en in die Kaapstad-stadion moet kleitrap.
Die Sharks, wat (weer) deur die oud-Nieu-Seelander John Plumtree afgerig word, se voorneme is om ondernemende rugby te speel. Hulle het dit met rukke en stote reggekry, maar wanneer jy 12 strafskoppe afstaan en net vyf kry, wanneer jy ʼn geel kaart (die skrumskakel Cameron Wright) vir ʼn kop-teen-kop-hoogvat kry, word jou planne in die wiele gery.
Munster, wat net soos die Sharks sonder agt toetspelers was, het op die knoppie van hul akademie gedruk om die gapings te vul deur vyf jongelinge in te span.
Die jonges, soos Edwin Edogbo, Ethan Coughlan en Antoine Frisch, het saam met die ervare Joey Carbery en Andrew Conway gedy.
Die jonges word vroeg in hul loopbane aan die fisieke aanslag van die Suid-Afrikaanse spanne blootgestel; hulle moet vroeg drukkoker-situasies verwerk.
Daar was ʼn paar opflikkerings aan die Sharks se kant, soos die breekslae van die losskakel Curwin Bosch, die senterspel van die stormram Rohan Janse van Rensburg, asook Wright se voorgevoel, breekslae en taktiese skopwerk.
Werner Kok het oudergewoonte oral opgeduik, selfs toe hy Wright tydelik as skrumskakel vervang het.
Voorlangs het die strydros Coenie Oosthuizen, Kerron van Vuuren, James Venter en Phepsi Buthelezi baljaar.
Puntemakers: Munster 34 (14): Drieë: Edwin Edogbo, Diarmuid Barron, Antoine Frisch, Andrew Conway, Ethan Coughlan. Doelskoppe: Joey Carbery (3). Strafdoele: Carbery (1).
Sharks 21 (7): Drieë: Werner Kok, Rohan Janse van Rensburg, Aphelele Fassi. Doelskoppe: Curwin Bosch (3).