Munster tem Bulls op Fort Loftus

Munster het die Bulls op Loftus Versfeld geklop. (Foto: Munster/X)

Dinge het toe nie heeltemal volgens plan vir die Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap verloop nie en die Pretorianers het met 27 – 22 teen Munster op Loftus Versfeld verloor.

Die tuisspan wou hierdie wedstryd bitter graag wen omdat dit die pad na tuisuitspeelwedstryde in die reeks vergemaklik.

Volgens die amptelike statistieke het die Bulls meer balbesit geniet en meer verdedigers geklop, maar die besoekers het vier drieë gedruk en die tweestryd op die telbord gewen.

Die eerste helfte was ʼn wipplankstorie met al twee spanne wat bereid was om die bal lug op die aanval te gee.

Munster se Shane Daly het die kragmeting se eerste drie gedruk toe hy in die hoek oorgeduik het, maar Elrigh Louw het met ʼn kragvertoning van sy eie teruggeslaan.

Tog was dit die Ierse besoekers wat ʼn rustydvoorsprong geniet het toe RG Snyman ʼn drie gedruk het.

Die Springbok-slot het ʼn barshou in Munster-kleure gespeel en hy het met sy kenmerkende aangeewerk en sy verdediging beïndruk. Die Loftus-toeskouers het vir hom hande geklap toe hy in die tweede helfte vervang is.

Ná rustyd het Kurt-Lee Arendse en Johan Grobbelaar vir bykomende punte gesorg en dit het gelyk of die Bulls nóg ʼn wedstryd op hul tuisveld teen Europese teenstanders sou wen.

Maar toe word Johan Goosen van die veld gestuur.

Die Bulls-losskakel het koppe met Munster se Craig Casey gestamp en ʼn rooi kaart is in sy rigting geswaai.

Daarna het Munster sy status as verdedigende kampioenspan onderstreep en John Hodnett en Conor Murray het die Pretorianers se verdediging laat bontstaan.

Terselfdertyd het die Bulls ook by die afbreekpunte gesukkel en die Iere het gereeld omgekeerde balbesit bewerkstellig.

Munster is tans derde op die punteleer met 48 punte, gevolg deur die Bulls met 46 punte.

  • Puntemakers:

Munster: Drieë: Shane Daly, RG Snyman, John Hodnett en Conor Murray. Doelskoppe: Jack Crowley (2). Strafskop: Crowley.

Bulls: Drieë: Elrigh Louw, Kurt-Lee Arendse en Johan Grobbelaar. Doelskoppe: Johan Goosen (2). Strafskop: Goosen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.