Murphy se wet gaan in eindstryd geld

Frank Murphy. Foto: Twitter.

Wanneer die Bulls môre in Italië teen Benetton in die eindstryd van die Reënboogbeker speel, sal ’n oudskrumskakel in beheer van die wedstryd wees.

Pro14-base het ’n kort rukkie gelede bevestig dat Frank Murphy – wat vir die Leicester Tigers, Munster en Connacht gespeel het – as skeidsregter in die wedstryd sal optree.

Die 38-jarige blaser sal ook wet en orde in een van die Springbokke se toetse teen Georgië toepas.

Intussen is die Bulls uitgehonger om hul staal teen ’n internasionale span te wys nadat hulle die septer in Suid-Afrika geswaai het.

Die Curriebeker, Superrugby Unlocked-trofee en die Varsitybeker word onder meer in die Pretorianers se vertoonkas uitgestal.

“Die komende wedstryd beteken baie vir ons, juis omdat dit nou al ’n hele rukkie is sedert Suid-Afrikaanse spanne oorsee kan toer,” het Jake White (Bulls-afrigter) gesê.

En soos wat White al vantevore gesê het – hy hou ook baie van wen.

Die wedstryd skop môre om 18:30 af en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Uitslae van Benetton se vorige kragmetings:

20-12 teen Connacht

34-27 teen Zebre

25-20 teen Zebre

46-19 teen Glasgow Warriors

  • Uitslae van die Bulls se vorige kragmetings:

34-22 teen die Sharks

31-27 teen die Stormers

33-34 teen die Lions

43-9 teen die Sharks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Dirk Mostert

Snaakse kompetisie. Die Bulle eindig bo in die plaaslike 4-span kompetisie en speel dan ‘n FINAAL teen die wenner van 10 spanne in Europa. Liewers ‘n ordentlike, outydse Curriebeker soos voor SUPER.