‘Musieksoldate’ laat die rugbypoppe dans

Hulle word die Reggae Warriors genoem, maar daar was Saterdag niks droefgeestig aan Jamaika se spel toe hy teen Barbados vlam vat nie.

Dit was die eerste wedstryd in die Bekerafdeling van die herskikte Amerikas-Noord-kampioenskap (ANK) en tot rustyd het die spanne goed teen mekaar opgeweeg. Jamaika moes werk dat hy die kromme note haal om met 15-14 voor te loop.

Luidens berigte het Barbados se ligter agttal die skrums oorheers en sy man in die losspel gestaan.

Die tweede helfte was egter ʼn ander deuntjie en toe die besoekers se agterlyn vlam vat, het die poppe gedans – Jamaika het op die ou end met 60-14 gewen.

Dié twee spanne is die enigste wat in die Bekerafdeling (die tweede vlak van die kampioenskap) meeding.

Bermuda, die Kaaimanseilande, Trinidad en die VSA-Suid Panthers spook sake in die Kampioenskapsafdeling uit, en Curaçao, die Dominikaanse Republiek en Guadeloupe ding in die Trofee-afdeling mee.

Die kampioenskap is voorheen op slegs twee vlakke en in ʼn Noorder- en Suiderafdeling beslis.

Vorige deelnemers soos die Turks- en Caicoseilande, die Britse Maagde-eilande, St. Vincent en die Grenadines, en St. Lucia speel vanjaar slegs vriendskaplike wedstryde onderling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.